A+ Vir lekker leer deur fisies te speel
Die kinders en die onderwyseresse geniet die nuwe benadering terdeë.
VAALPARK. – Die graad R leerders van die Primêre Skool Vaalpark sien uit daarna om skool toe te gaan.
Dis vir hulle die lekkerste lekker. Hier word dinge anders gedoen as die normale.
Alhoewel daar steeds by die departementele kurrikulum gehou word, is die benadering hierdie jaar aangepas.

Maniela Venter, interne departementshoof grade RR en R, sê die grendelstaat verlede jaar het haar baie kans gegee om navorsing te doen.
So het sy agtergekom dat Finland* die beste opvoedkundige stelsel in die wêreld het. Wat haar laat wonder het, wat maak Finland so anders?
Daar is natuurlik vele faktore, maar een het haar opgeval.
In Finland is daar nie ‘n groot fokus op lees en skryf voorskool nie, wel op formele spel en fisiese, sosiale en emosionele ontwikkeling.
Maniela het haar span betrek en by Melodie De Jager se Mind Moves in the Class Room gaan kers opsteek.
Melodie is ‘n voorstaander dat ‘n kind in totaliteit ontwikkel moet word en nie net akademies nie.
“Ons het toe hierdie jaar besluit om ons benadering in die graad R klasse aan te pas. Ons probeer hul “boekwerk” beperk.
“Ons sal byvoorbeeld steeds die getal 10 vir die kinders leer. In plaas daarvan dat hul net 10 in hul boekies skryf, sal ons nou buite die bal 10 keer gaan bons. Volgende keer onthou die kind hy het die bal 10 keer gebons,” vertel Maniela.
“Of ons sal die letter “J”, bespreek en dit in jellie skryf in plaas van om dit net in die boekies te skryf.”

Sy sê sy is al 21 jaar in die onderwys, maar geniet hierdie nuwe benadering net soveel soos die kinders.
Hulle het weeklikse temas en dink dan allerande aktiwiteite uit wat saam met die tema gaan.
Die doel is om soveel as moontlik van die kinders se sintuie te betrek.
‘n Multi-sensoriese benadering help die kinders om beter te onthou.
Onlangs is ‘n Gogga Dag gehou waar die leerders soos goggas kon aantrek en toe buite die klas na insekte en ander goggas gaan soek het.
Elkeen gewapen met ‘n vergrootglas.
“Ons het so gelag. Al die seuntjies was rowwe goggas soos spinnekoppe. Terwyl hul buite was, het die seuntjies gereeld afgehak “I want to eat bugs” en dan het jy net gesien hoe hardloop die vlinders en bytjies.”
“Die leerlinge geniet die klasse baie. Hulle ogies blink sommer van pure lekker kry.
“Emosioneel voel hul veilig en hul groot en klein motoriese vaardighede word ontwikkel. Ons doen gereeld assesserings.
Die nuwe benadering is vir ons ook nog ‘n leerskool, maar ons glo dit sal in die toekoms ‘n positiewe impak op die leerlinge hê.
“Om kinders te onderrig is soos om ‘n huis te bou. As daar nie ‘n stewige fondasie in graad R gelê word nie, kan die mure nie in later jare stand hou nie,” het Maniela gesê.

Intussen sien die kinders uit daarna om eersdaags weer almal elke dag skool toe te mag kom en nog meer speel-speel te leer.
*Bron: https://www.edsys.in/best-education-system-in-the-world/
