Veiligheid eerste: Jou optrede tydens ‘n gewapende roof
In die eerste van 'n reeks oor veiligheid, gesels ons met 'n sekuriteitskenner en 'n berader oor wat jou te doen staan tydens 'n rooftog en hoe jy kan leer om kalm te bly.
Die misdaadsyfers in Suid-Afrika is kommerwekkend.
Die Vaaldriehoek is geen uitsondering nie.
Alhoewel mens alles in jou vermoë probeer doen om huis en haard te beveilig, moet elkeen weet wat om te doen sou jy jouself te midde van ‘n gewapende rooftog bevind.
Volgens Arrie Coetzee van Public Eye Vaal is dit belangrik om die volgende tydens ‘n rooftog in gedagte te probeer hou:
Probeer om kalm te bly.**
Moenie enige vinnige hand of arm bewegings uitvoer terwyl die rowers gewapen is nie.
Indien moontlik druk die paniekknoppie om die sekuriteitsmaatskappy in kennis te stel.
Doen presies wat die rower(s) vra – as jy gevra word om op die grond te lê, doen dit sonder om verdere aggressie by hulle te ontlont.
Probeer om soveel as moontlik inligting omtrent die rower(s) te onthou.
Enige inligting van geskatte ouderdom, tot by lengte, haarkleur, tatoeërmerke, stem, ras en kleredrag kan later van waarde wees om die skurke vas te trek. (Moenie na die skurke staar nie, want dit kan die rowers meer aggressief maak.)
Onthou goed kan vervang word, lewens nie.
Moenie weg hardloop tensy dit nie veilig is om dit te doen nie.
Sodra jy veilig is, rapporteer die misdaad onmiddellik aan die polisie.
**Hoe bly mens kalm as jou en jou gesin se lewens in gevaar is?
Dr. Saneth Dreyer, ‘n geregistreerde sielkundige en traumaberader van Vanderbijlpark, sê dis belangrik dat ‘n gesin vooraf sal oefen vir enige gebeurlikheid.
Dit sal voorkom dat elkeen nie sy eie ding doen en verdere chaos veroorsaak nie.
Sy sê hoe meer jy dit herhaal in jou kop en besluit wat jy wil en gaan doen en opskerp hoe ander wat daardeur gekom het, dit gedoen het, hoe beter kans sal jy hê.
Dit sal ook ‘n spesifieke gedragspatroon in jou geheue vaslê.
As jy dus bv. vir jouself visualiseer hoe jy in enige situasie kalm en bedaard bly, sal jou brein aanvaar dit is wat gedoen moet word.
Voorsorg is natuurlik beter as nasorg, daarom beveel sy selfverdedigingsklasse aan.
Praktiese maniere om te probeer kalm bly is om op jou asemhaling te fokus en bewustelik stadiger en dieper asem te haal.
Konsentreer daarop om stadig en duidelik te praat sou hulle jou iets vra.
Besef selfs die aaklige situasie sal verby gaan.
Gelowiges sal vir jou sê die belangrikste is om dadelik vir kalmte te bid.
Baie mense vertel hoe hul in die gevaarlikste oomblikke ‘n totale gevoel van vrede en kalmte ervaar het en net geweet het, alles sal okay wees.

