Hoofsweep Rapport 24 – Midvaal se verhogings minder as in vorige boekjaar
Die verhogings vir die inwoners sluit in: water, sanitasie en vullisverwydering op 6%, assesseringskoerse op 7% en elektrisiteit op 16%.

Deur Raadsheer Phil C. Pretorius, DA-Hoofsweep, Midvaal Plaaslike Munisipaliteit
Die Midvaal-raad het Donderdag, 27 Mei die 2021/2022 begroting goedgekeur. In haar begrotingsrede het MMC Pat Hutcheson die burgemeester, raadslede, Midvaal-personeel en -bestuur bedank vir hulle harde werk om Midvaal se begrotings jaar na jaar te laat klop.
Die begroting was oop vir insae by al Midvaal se publieke kantore en biblioteke vanaf Maart tot Mei vanjaar. Insette is ontvang deur ‘n gespesifiseerde e-posadres en op die MyMidvaal-toepassing nadat die opsomming ook op sosiale media, in die koerante en op die webwerf geadverteer was. Raadsheer Hutcheson het die begroting voorgehou en bevestig dat Midvaal se verhogings minder is as die vorige boekjaar.
Midvaal se begroting vir 2021/2022 beloop R1.443 biljoen, wat slegs ‘n 1,6% verhoging is vanaf 2020/2021 se inkomste. Die kapitale en operasionele toelaes is R242 miljoen en is minder as die vorige jaar. Die kapitaaltoelaes is 61,4% van die totale kapitale uitgawes en is ‘n allemintige 15,4% VERHOGING. Die verhoging is te wyte aan Midvaal se besondere goeie rekord vir kapitale projekte.
Die verhogings vir die inwoners sluit in: water, sanitasie en vullisverwydering op 6%, assesseringskoerse op 7% en elektrisiteit op 16%.
Die uitgawebegroting beloop R1.419 biljoen, slegs 8,4% hoër as die vorige jaar. Die persentasie is heel uit verhouding uit getrek deur die Eskomverhoging van 16%. Midvaal se personeelbegroting is slegs 25,9%. Soos voorheen gerapporteer, is sommige ander munisipaliteite se personeelbegrotings meer as 70% van hulle totale begroting.
Die herstel- en instandhoudingsbegroting is verhoog na 10,3% en kapitale uitgawes sal aangewend word vir onder meer nuwe vulliskompakteerders, brandweertoelae, sekuriteitsapparaat soos CCTV, radio’s en sekuriteitskameras. Die kapitale begroting beloop R142.9 miljoen.Die DA Midvaal verskil:Die 2021/2022 begroting is totaal befonds en is deur die provinsiale tesourie goedgekeur.
Rdh. Pat Hutcheson het die Midvaal-begroting as “geloofwaardig, effektief, doeltreffend en realisties” bestempel voordat sy staande toegejuig is deur die Midvaal-raadsvergadering.
Trotse Midvaal Groete.
Phil.
Web: www.midvaal.gov.za
Facebook: Midvaal Local Municipality en Midvaal News Network
Tel: 0861 643 8225
MyMidvaal App

****************************************************************************************************

