Local newsNewsNews

Vaal se Henrik ‘n ware held by die Suidkus

VANDERBIJLPARK. - ‘n Plaaslike inwoner het onlangs die voorblad van die South Coast Sun aan die Suidkus gehaal toe hy ‘n kind uit die see gered het.

Die 63-jarige Henrik Bernard beskou homself nie as ‘n held nie, maar Vaalweekblad dink hy is beslis ‘n held wat erkenning verdien.
Henrik en sy vrou Rina hou jaarliks vakansie in Amanzimtoti.

Hulle is jarelange Bijlers en Henrik het 42-jaar as ‘n elektromeganikus (millwright) by ArcelorMittal (voorheen Iscor) gewerk.

Hy het in 2006 aan diens in ‘n gat geval, waarna hy twee ernstige rugoperasies moes ondergaan en uiteindelik moes aftree. Om dié rede hengel die egpaar graag, maar is dit te gevaarlik vir Henrik om in die see te swem.

Dit was op 18 Mei terwyl hulle besig was om rustig te hengel, toe hulle vyf seuns en ‘n meisie in die branders sien baljaar het.
“Ek het gesien hoe die gety hulle intrek en geweet hier kom moeilikheid. Die ander het later daarin geslaag om uit te swem, maar een seun was in die moeilikheid,” vertel Henrik.

Henrik en die seun wat hy van verdrinking gered het. Foto: Verskaf

Hulle was alleen op die strand. Die seun se boetie het Henrik gesmeek om sy boetie te help.
“Ek het nog gewik en weeg en toe skielik besef, as ek hom nie help nie gaan hy hier voor ons oë verdrink,” vertel Henrik. Rina het ook reeds besef die seun gaan verdrink en was in ‘n toestand.

Henrik is toe die branders in. Moeg en met ‘n seer lyf het hy daarin geslaag om die seun uit die see te red, hom op sy sy te draai en die water uit sy longe gekry.

Na sowat ‘n uur was die seun buite gevaar. Dit was toe dat emosies soos die see se branders oor Henrik gespoel het.
“Dit het my getref dat ek iemand se lewe gered het! So iets het nog nooit met my gebeur nie. Ek raak steeds emosioneel as ek aan die gebeure dink,” sê Henrik.

Hy voel steeds dat hy nie ‘n held is nie, maar dat dit eerder God was wat deur hom gewerk het om die seun te red.
Hoe dit ookal sy, dit is hieruit duidelik dat nie alle helde maskers en mantels dra nie.

Rina en Henrik Bernard van Vanderbijlpark.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button