Die winter-was-wals en die wasbak polka
Soms moet mens maar te midde van 'n krisis die ligter kant van alles raaksien. Moes jy ook al die wasbak polka doen?
Dit was die winter van 2021. Ek onthou dit soos gister. (Ek skryf hierdie met ‘n oog op die toekoms, waar ek hoop daar weer water in die pype sal wees). Die groot waterkrisis in die dorp.
Ek moet bieg, tot op die heel laaste was daar ‘n druppel of tien in die een koue kraan versteek.
Die warm water krane het eerste leeg geloop.
Ons het die geiser met ‘n swaar hart afgesit.
Was na 20:30 wat ons besef het daar is nou nie meer druppels om die toiletbak te vul nie.
Dit was tyd vir operasie boorgat. Pa is by die deur uit. Ma gaan staan by die venster in die badkamer.
Pa gee die tuinslang deur die venster vir haar aan.
Ek gaan druk my kop deur die tralies van my kamervenster (tragies ja, maar hierdie is SA).
In die verte kan mens die masjiene nog hoor kreun waar die groot lek vir die kontrakteurs wegkruip.
Pa gaan staan by die boorgat se muurprop langs die huis.
“Ek is reg,” roep Ma.
“Pa kan aansit,” sê ek.
“Okay,” sê Pa.
Vanuit die badkamer hoor ek hoe spoeg en stotter die tuinslang water in die bad.
Pa loop weer voor die venster verby. “Die tuinslang het oor die hek vasgeknyp. Dis nou weer reg,” sê hy.
Ek luister. Ja, dis nou ‘n bestendige stroom water wat in die bad tap.
Baba Bessie kom kyk hoekom ek nou dié tyd van die nag by die venster uithang.
Uiteindelik roep Ma uit die badkamer. “Sê jou pa kan afsit.”
Oomblikke later is die water stil. Ek stap badkamer toe. Kyk verlangend na die bad met water.
“‘n Vol bad waarin mens nie kan bad nie,” sug ek hardop.
“Dis nie so koud nie,” sê Ma, “dis so louerig.”
Ek kyk haar ongelowig aan. Offer dan my wysvinger op om te toets. “Is yskoud!” protesteer ek.
Ma sit ‘n emmer langs die bad neer.
“Onthou,” vermaan Pa, “haal die toilet se deksel af en gooi die water bo in.”
“Ons weet. Ons bly in Vanderbijl. Hierdie is nie ons eerste waterkrisis nie,” is ek en Ma dadelik vies.
Om die toilet te gebruik ontaard in ‘n hele gymsessie.
Dis ‘n ou huis. Ons praat hier van ‘n propperse outydse sware porselein troon.
Twee emmers water op ‘n slag om die bak naastenby genoeg water te gee vir die volgende trekslag.
Stort en bad is vir eers van die baan. Maar, mens moet darem op ‘n manier skoon kom.
Die grootste pot in die huis word ingespan vir water kook op die stoof. Dan is dit skuifel-skuifel gang af.
Stadig, want Baba Bessie en kie is al voor mens in. Elke oggend probeer ek iets anders.
Water in die wasbak. Water in die rooi skottel in die stort. Die uiteinde is dieselfde.
Dit lyk of ek die wasbak polka of een ander riel dans doen net om min of meer skoon te kom in die kortste moontlike tyd.
Ek hoor party mense noem dit ‘n voëltjie bad of ‘n voortrekker bad.
Wel, ek is dankbaar daar is vloer, dak en mure om my.
Ek dink nie ek sou kans gesien het vir die winter-was-wals langs ‘n ossewa in die veld nie!

