Wen ‘n wegbreek op die Africa Silks Plaas
Op die Africa Silks Plaas kan jy jouself weer vind en sommer net weer mens word.
Skryf nou in vir Vaalweekblad se Vadersdagwedstryd. Jy kan onder andere ‘n naweek* vir twee op die Africa Silks Plaas wen!
Die Africa Silks Plaas is 23,5 km buite Graskop geleë. Die omgewing is prentjie mooi en daar is baie natuur- en historiese besienswaardighede in die gebied.
Op die plaas word daar met avokadopere, makadamias en sywurms geboer. Ja, sywurms!
Die sy word by die Africa Silks Wewery in Graskop gespin waar die sy-produkte geweef word.
Die plaas bied daagliks begeleide toere waar besoekers nader kan kennis maak met die verskillende sywurms en tipes sy.

Die Africa Silks Plaas is ideaal vir ‘n familievakansie of daardie romantiese wegbreek vir twee.
Vier tipes selfsorg akkommodasie is beskikbaar, naamlik die sakpas Tenthuise, die Tsanana Log Cabins en die luukse eenhede van Memory Lane en Mulberry Lane.
Die Africa Silks Plaas spog ook met ‘n wandelroete deur die inheemse bos, grondpaaie waarop bergfiets gery kan word, ‘n swembad, en die Deck Restaurant en Voggies Bar.
Enige tyd van die jaar is die beste tyd om op die plaas te oornag. Met al die plantasies in die omgewing is nie eens die winter vaal nie.
Die weer hou gereeld verrassings in, so pak maar ‘n ekstra baadjie as jy in Desember gaan kuier en ‘n stel somersklere as jy in die winter ‘n draai maak.
Daar is Laeveld warm sonnige dae waar die son ‘n bietjie dooierus vat en dan is daar die stil dae. Die dae wanneer die berge die wit-mis-kombers snoesig oor die vallei trek en almal rustig rondom braaivleis vure of potjiekospotte kuier.
Desember is ekstra spesiaal, want dan maak duisende vuurvliegies net na sononder hul verskyning in die Feetjiebos.
Dis ‘n kosbare oomblik as ‘n groepie mense doodstil in ‘n donker bos skielik omring word deur al die bewegende liggies.
Maar, dis nie net die mooi natuurskoon, die vars lug en die skoon water wat die plaas besonders maak nie.
Dis die mense. Ieder en elk doen alles met gulhartige, vriendelike oorgawe.
Daar is gaste wat jaar na jaar terugkom, want op hierdie plaas kan jy jouself weer vind en sommer net weer mens word.
Vir meer inligting gaan loer gerus in by die Facebookblaaie, @AfricaSilksFarm en @MulberryLaneSuites.
Hoe skryf jy in?
WhatsApp ‘n foto van jou en jou pa of man na 076 454 9256 en vertel ons in minder as 60 woorde hoekom jou pa of man verdien om te wen.
As jou man of pa reeds oorlede is, kan jy steeds deelneem. Stuur vir ons sy foto en vertel ons watter soort man en pa hy was.
Die sluitingsdatum is 27 Junie. Die wenner sal op 7 Julie bekend gemaak word.
*Die naweek vir twee sluit in akkommodasie in een van die luukse Mulberry Lane eenhede op die plaas. Dit is ‘n selfsorgeenheid.
Etes en vervoer is nie by die prys ingesluit nie.
Die wenners kan enige tyd binne ‘n jaar vandat die wenner aangekondig is, vir ‘n naweek bespreek.
Die prys is nie oordraagbaar nie en kan nie vir kontant geruil word nie.
