Pixie na 9 dae in mielieland gevind
VEREENIGING. - Vaaldriehoekers het onlangs op Vaalweekblad se Facebookblad en sosiale media gelees van Pixie die chihauhau wat in Drie Riviere-Oos weggeraak en haar eienaars alles in hul vermoë gedoen het om haar weer te vind.
Die dae het verby gegaan en na 9 dae se hartseer en kommer is Pixie gevind. Maar dit was nie ‘n maklike taak nie!
Inwoners wat bewus was van die soektog na Pixie danksy “flyers” wat in die area versprei is, het Pixie gewaar.
“Mense buite Eligwa Estate het haar sien hardloop in die mielielande oorkant die Estate. Kevin Dixon, ‘n huisvriend van dié mense het haar gejaag en homself voos geduik om haar gevang te kry. Pixie het hom natuurlik gebyt en hy moes ‘n klem in die kaak inspuiting kry,” vertel ‘n dankbare Adele Moolman, Pixie se eienaar.
“Dankie aan die familie wat haar in die badkamer met ‘n bedjie toegemaak het en my dadelik gekontak het en fotos van Pixie gestuur het. Ook dankie aan Carla van Wijk en Lache Olinsky wat dadelik gery het om haar te gaan haal (ek was in Limpopo op daardie stadium).
“Baie dankie ook aan Vaalweekblad wat die soektog na Pixie ondersteun het. So baie mense het my gekontak en net die beste toegewens en dat hul hoop dat ek haar kry.” sê Adele.
Die storie het darem ‘n gelukkige einde.


