Bedworthpark-inwoner bekommerd oor toestand van buurt
Inwoners van Bedworthpark tussen Vereeniging en Vanderbijlpark, het rede om bekommerd te wees oor die toestand van die buurt. Gehawende elektriese kaste is maar 'n druppel in die emmer.

Mnr. A.S. Joubert, wat reeds 27 jaar in Bedworthpark woonagtig is, het die foto’s van die elektriese kaste aan Vaalweekblad gestuur. Hy glo dat die inwoners moet saamstaan om ‘n verskil in die buurt te maak.
“Ons in die area was vanaf Maandag 14 Junie sonder krag. Dit het eers weer op 19 Junie aangekom. Deur die loop van die nag is die toevoer na 395 volt verhoog, wat veroorsaak het dat die “earth leakage” uitskop in ons woonhuise en dit mense veroorsaak dat ons ook skade lei agv daarvan. Ons moet nou ten duurste deur ons versekering eis. Wat van die inwoners wat nie versekering het nie?” vra mnr. Joubert.
Hy meen dit kan nie so aangaan nie. Wat nog ‘n bron van kommer is, is die woonstelblokke/studente-behuising wat op huispersele opgerig word.
“Daar word toeneemend net huise afgebreek en dan verrys daar die woonstelblokke op daardie persele. Daar is tans twee nuwe sulke plekke wat opgaan in Casandralaan. Dit is plekke wat ekstra elektriese krag benodig. Ekstra riool wat op die verouderde systeem saamgevoeg word en die rede is hoekom ons in die laaste tyd al hoe meer rioolblokkasies kry en met die stank moet saamleef tot dat die munisipaliteit besluit dit is tyd om dit te gaan oopmaak,” meen mnr. Joubert.
“Mense in Bedworthpark, kom ons staan saam en probeer ons eens mooi en stil plekkie weer terug te kry. Ons moet die ongewenste elemente hier uitkry soos die shebeens, onwettige studente-behuising en die geraas waaraan die SAPD niks doen nie. My vraag is net hoe kan ons dit doen?,” sluit mnr. Joubert af.



