Eureka skool weke sonder water – munisipaliteit traag om te help
Dis 'n skreiende skande dat 'n skool wat na leerlinge met spesiale behoeftes omsien nie water het nie.
VEREENIGING. – Te midde van die Covid-19 pandemie het die Eureka skool vir fisies en erg gestremde leerlinge al vir weke water probleme.
Dieselfde week wat Vanderbijlpark nie water gehad het nie het die skool se groot droogte ook begin.
Verskeie oproepe na die munisipaliteit het op dowe ore geval.
Eindelaas het die skool ‘n watertenk en pomp gekoop om die boorgatwater in die sisteem te pomp om die koshuis oop te hou.
Die reuse kragopwekker wat dit alles aan die gang moes hou het duisende rande se diesel gesluk.
Binne ‘n paar dae het die water weer opgedroog tussen die boorgat en die krane.
Waar die water heen verdwyn is niemand seker nie.
Intussen het adjunkhoof, Johan Erasmus sonder welslae aanhou probeer om die munisipaliteit se aandag op die skool se nood te vestig.
Die onderwysdepartement is ook in kennis gestel, maar ook hulle bied geen hulp nie.
Nadat Klippies Kritzinger van die Golden Triangle Chamber of Commerce in kennis gestel is, het munisipale werkers vir die eerste maal op Vrydag, 25 Junie by die skool opgedaag.
Eers het hulle die fout vir die gebrek aan water binne die skoolterrein gesoek, maar nie gevind nie.
Daarna is verklaar dat die fout dan buite die skoolgronde moet wees.
Ure later was die werkers terug by die skool met die slegte nuus dat hul nie die fout kon opspoor nie.
Maandag, 28 Junie was daar steeds nie water by die skool nie. Daar is wel blykbaar Maandag ‘n klep vervang op die hooftoevoerlyn na die skool.
Johan sê die skool sluit nou al van verlede week (nadat die boorgatplan nie meer wou werk nie) om 10:00 elke dag. Die koshuis is ook nou gesluit.
“Ons kan net nie so voortgaan nie. Die situasie hou gesondheidsprobleme in. Gelukkig help Klippies nou om druk op die munisipaliteit te plaas,” het Johan gesê.
Die skool ondervind ook nie net waterprobleme nie.
Die elektrisiteit gaan sonder enige verduideliking van die munisipaliteit ten minste een maal per week af en dan neem dit soms tot 24 uur voordat daar weer krag is.
Dit maak dit baie moeilik vir die skool en koshuis wat na leerlinge omsien met spesiale behoeftes.
In die opsig is die huidige sluiting van die skole vanaf 30 Junie onder vlak 4 eintlik ‘n bedekte seën.
Hopelik sal die munisipaliteit die elektrisiteitsprobleem en die water krisis by die skool kan uitsorteer voordat die skool weer in aanvang neem op 19 Julie 2021.
