Kerke lui hul klokke vir mense wat deur Covid-19 geraak word
Terwyl die verwoestende derde vlaag van die Covid-19-pandemie voortwoed het kerke in die Vaaldriehoek begin om hul kerkklokke elke dag om 12:00 uur namiddag te lui en gevra dat gemeentelede saam bid vir mense wat deur die Covid-19-virussiekte geraak word.
Die NG Gemeente Drie Riviere-Oos was een van die eerste kerke in die omgewing wat Maandag op hul Facebook-blad laat weet het dat die kerkklok elke dag om 12:00 gelui sal word.
Die kerk vra op hul Facebook-blad dat gemeentelede en lede van die publiek gedurende hierdie tyd , ongeag waar hulle is, saam bid vir die pandemie, vir die land, die regering, vir al die mediese personeel in hulle dapper stryd teen die koronavirus en sommer ook vir die wonderlike mense van Suid-Afrika.
Volgens ds. Chris Olivier, leraar van die NG Gemeente Drie Riviere-Oos, is die idee om vir mense te vra om saam te bid en nie hoop te verloor nie en vertroue te hê dat God mense deur hierdie pandemie sal lei.
Hy het ter selfde tyd benadruk dat mense ook hul deel doen soos om maskers te dra, sosiale afstand te hou en nie sosiale byeenkomste in hierdie tyd by te woon nie aangesien dit tot die verspreiding van die Covid-19-virussiekte kan lei.
Dit is ook om vir mense te wys dat die kerk en die kerklike gemeenskap nog bestaan, hoewel massabyeenkomste nie mag plaasvind onder die huidige inperkingsregulasies nie.
Die gelui van die kerkklokke elke dag omstreeks 12:00 sal volgens Olivier tot die einde van Julie voortduur.
Ander kerke in die Vaaldriehoek doen ‘n soortgelyke ding.
Die Hervormde Kerk in Meyerton lui ook hul klok om 12:00 elke dag en het mense gevra om saam te verkeer in gebed gedurende hierdie krisistyd en te bid vir almal wat op verskillende maniere deur Covid geraal word.
