Local newsNews

Raadsheer Phil: “Dink mooi voor jy iets sonder hulp of toestemming brand”

Daar is ʼn mite wat die ronde doen dat elke oop stukkie gras in die winter MOET brand. Dit is nou glo om van siektes en bosluise ontslae te raak en om die plante weer mooi te laat groei.

Deur Raadsheer Phil C. Pretorius – DA Hoofsweep, Midvaal Plaaslike Munisipaliteit

Dit is koud en droog. Dit is droog en vaal. En dan brand alles.
Daar is ʼn mite wat die ronde doen dat elke oop stukkie gras in die winter MOET brand. Dit is nou glo om van siektes en bosluise ontslae te raak en om die plante weer mooi te laat groei. Sommige mites lui bloot: “die gras is te lank, brand dit!” Vandag wil ek kom vra dat ons asseblief mooi sal dink oor wat en waar ons brand sonder toestemming of hulp.

Die media is vol van die tragiese foto’s van R2 miljoen se voer wat afgebrand het en dat dit moontlik ʼn ongeluk is of dat brandstigting vermoed word. Wel as jy ʼn oop veld aan die brand steek of tuinvullis in jou agterplaas brand of ʼn stompie by die venster uitgooi is dit brandstigting.

Nie net is dit lewensgevaarlik vir wilde diere en vee nie maar rig dit ook groot skade aan wonings en menselewens. Nadat inwoners in Meyerton, Uitbreiding 6 se lapa afgebrand het die gemeenskap begin vra hoekom iemand dink die vlei moet elke jaar brand en dit dan aan die brand steek bo in Erna Churchstraat.

Dit gebeur gewoonlik op ʼn Vrydagmiddag na 17:00. Teen 03:00vm die Saterdagoggend kom die brand by die suidelike deel van die vlei uit en dan moet die inwoners met die grasdakke bontstaan tussen die ryp en gevriesde tuinslange om hul eiendom en lewens te beskerm.

So het ek in 2020 die “rookseine” gesien maar teen die tyd wat ons by die vlei gearriveer het, was dit amper te laat. Die vlamme het vier meter hoog deur die lug gelek en bo-oor die inwoners se mure gespring. Die een grasdakhuis se dak was reeds aan die brand en ek en my seun kon gelukkig van die twee bure se kant af die vuur met tuinslange blus voor dit te veel skade aangerig het.

Die pampasgrasse vorm vlieënde projektiele wat soos lugafweermissiele op grasperke en dakke land. Dank vader vir die Midvaal Brandweer. Behalwe dat hulle van die enigstes in die Vaal is wat nog op volspoed opereer, is hulle ook een van die bestes in Suid-Afrika.

ʼn Geliefde inwoner van Meyerton, George Ehlers, se skoonseun dr. David Ehlers Smith, is ʼn Bewaringsekoloog en het al meer as 100 voëlspesies in die Meyerton vlei geïdentifiseer. Dit is behalwe vir die aantal ystervarke, otters, meerkatte en grysduikers wat gereeld daar wei. Volgens David is daar drie skaars en bedreigde spesies wat in die vlei broei.

Hulle is die Rooiborsvleikuiken, Grootriethaan en die Vlei-uil. Wanneer die vlei dan brand word neste en moontlik eiers verwoes.
Dit is ons plig as inwoners om op te staan, te praat en ons omgewing te beskerm van brandstigters wat die erfenis vir ons nageslagte wil verwoes.

Die Midvaal Brandweer help graag met voorbrande waar nodig en sal een van hul veldbrandwaentjies stuur om te help met bestryding. Kontak hulle gerus op 016 360 7500.
Onthou asseblief dat brandstigting volgens Afdeling 25(2)(b) van die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande van 1998 ʼn kriminele oortreding is en strafbaar is deur die gereg met ʼn hewige boete of tronkstraf (https://lawfulliving.co.za/book/text/forestry–veld-forest-fires.html#fnref:iv )
Trotse Midvaal-groete, Phil.

Web: www.midvaal.gov.za
Facebook: Midvaal Local Municipality en Midvaal News Network
Tel: 0861 643 8225
MyMidvaal App

 

Raadsheer Phil Pretorius saam met brandweerpersoneel van Midvaal, langs een van die brandweervoertuie wat in die bestryding van brande gebruik word.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button