Franco is ‘Mr Junior Teen SA’ finalis
Die jongman sal nie omgee om eendag die Mnr SA-titel te verower nie, maar die diereliefhebber droom ook daarvan om eendag wildbewaarder te word.
VANDERBIJLPARK. – Franco Wagenaar het verlede jaar sommer vir die pret en met ‘n bietjie aanhitsing van een van sy vriende aan die Mr Teen Vaal Pageant 2020 deelgeneem.

Hy het die hele kompetisie so baie geniet, dat hy ook vir Pageants SA se Mr Jnr Teen South Africa ingeskryf het.
Tans is hy een van die finaliste in die Face of South Africa-afdeling.
Daar is verskeie kategorieë en mense kan vir hul gunstelinge gaan stem.
Om byvoorbeeld vir Fanco te stem moet ‘n SMS gestuur word na 47087 met MRJT01 as boodskap.
Die kompetisie sluit in Oktober.
Franco sê hy het ook reeds ingeskryf vir hierdie jaar se Vaal Pageant.
Hy is ‘n graad 9-leerling aan die Hoërskool Driehoek.
Op die oomblik geniet hy dit die meeste om rekenaarspeletjies te speel.
League of Legends is sy gunsteling en hy hoop om eendag Suid-Afrika in ‘n toernooi te kan verteenwoordig.
Hy is ook lief vir diere en oorweeg dit om ‘n wildbewaarder te word.
“’n Deel van die Mr Jnr Teen-kompetisie behels dat die finaliste liefdadigheidswerk doen. Ons het nou al by Vaalpets gaan help hokke skoonmaak en tyd saam met die honde deurgebring. Dit was vir my baie lekker,” vertel hy.
Franco was einde verlede jaar in ‘n ernstige motorongeluk wat hom drie weke in die hospitaal laat beland het.
Weens die aard van sy beserings mag hy vir die volgende twee jaar nie aan kontaksport deelneem nie.
Tot dan, geniet hy sy gaming en hoop hy om ‘n titel of twee deur die modelkompetisies agter sy naam te skryf en daarmee saam meer liefdadigheidswerk te doen.
