Ek is nie ‘n gebore onderwyseres nie
Dit was die dag wat die onderwyseresse so gelag het omdat hierdie joernalis so gesukkel het om 'n klompie graad R-leerders te beheer ...
Ek sal altyd die dag onthou wat ek vir ‘n enkele dag onderwyseres was.
Dit was in my Graskop dae. As die dorp se enigste joernalis was ek tydig en ontydig by een van die laerskole op soek na stories vir die plaaslike koerant.
Besluit die skoolhoof hulle gaan ‘n pretdag vir die kinders hou met water springkastele en die klas van dinge.
Klink toe vir my na groot pret en ek meld vroeg by die skool aan – as verteenwoordiger van die koerant.
Die hoof het ‘n tekort aan personeel gehad, sal ek help? Ek stem in.
Oortuig ek gaan met ‘n tuinslang rondstaan en ‘n springkasteel natspuit sodat die kinders kan afgly. Toe nou nie.
Hy gee vir my die graad R klas. ‘n Woelige klompie 5 tot 6-jariges.
Uit hul vel van opgewondenheid oor die anderste skooldag.
Nie een kan ‘n woord Afrikaans praat nie en die meeste sukkel nog met Engels.
Die hoof het alles mooi verduidelik. Die skoolklok gaan steeds lui om periodes aan te kondig.
Na elke sessie skuif ‘n klas na ‘n ander punt waar ‘n regte juffrou vir hulle sal verduidelik wat om te doen vir die volgende halfuur.
My werk was om die groepie jongelinge op ‘n ordelike manier van punt na punt te neem. Ag ja … ek het probeer!
Maar, dit was ‘n verlore stryd om daai klomp kleintjies in ‘n ry te kry en in ‘n ry te hou.
‘n Paar het die heeltyd afgedwaal, ander het hul skoene en handdoeke oral laat lê en waar hul gegaan het kon jy hulle tot in Sabie hoor.
So erg was dit op ‘n stadium dat die hoof moes ingryp om die vrede te herstel.
Ek het gedreig, gepleit, mooi gepraat en geraas in elke taal wat ek ken en nie ken nie.
Natuurlik tot groot vermaak van die regte juffrouens wat in hulle lewens nog nooit ‘n joernalis so sien spartel het nie.
Op ‘n stadium lui die klok weer. “Dis pouse, ons gaan personeelkamer toe,” hoor ek my vriendin se stem van ver af.
My ore tuit, my stem is amper weg en dis nou eers eerste pouse!
Ek het daardie dag nuwe respek gekry vir graad R onderwyseresse.
Hoe hulle vyf dae ‘n week orde kan handhaaf en die kinders geleer kan kry, weet ek wraggies nie.
Ek was net dankbaar ek het nie een leerling deur die dag verloor nie.
Een ding is verseker, ek het nie my roeping tot die onderwys gemis nie!
