Op dié dag in 1900 is die verskroeide aarde beleid deur die Britte afgekondig – ‘n verwoestende en onmenslike beleid wat die begin van ‘n bitter lyding vir Boere-Afrikaners was.

“16 Junie 1900 het ‘n diep en onuitwisbare letsel op duisende gesinne en families gelaat en vir geslagte lank Afrikaners se volkskarakter gevorm. Die kultuurnetwerke het verlede week kranse in konsentrasiekampkerkhowe gelê ter herdenking aan die 22 000 kinders wat gesterf het.
“Ons beweging leer die kinders van die geskiedenis van ons Afrikanerbestaan, waar dit nie noodwendig meer in skole aangebied word nie. Kinders het blomme op die grafte gesit en was ook deel van die FAK se videokompetisie,” sê Louis Keyser, kommandoleier van die Vryheidsmonument Voortrekkers.
Onder die organisasies wat aan die herdenking in Vereeniging deelgeneem het, was die FAK-Vaal-Kultuurnetwerk, die SAWV, die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika (GGSA Vaal), Monumentjagters, AfriForum Vaal, Khairos Privaatskool, die Vryheidsmonument Voortrekkerkommando en mense uit die gemeenskap.

Kranse en kruise is by die name van die afgestorwenes in die konsentrasiekamp geplaas en ‘n blom is by elkeen se graf neergelê. Geskiedeniskenner Peet Schabort het sy kennis en stories oor die Anglo-Boereoorlog met teenwoordiges gedeel en dit tasbaar gemaak deur elkeen as’t ware in die skoene van ons voorouers wat in konsentrasiekampe aangehou is, te plaas.
Volgens Barry Müller, kultuurorganiseerder van die FAK-Kultuurnetwerke, is dit ‘n roerende ervaring om te sien hoe verskeie instansies en mense van alle ouderdomme kan saamkom om eer te bring aan dié wat alles, selfs hulle laaste asem, vir die nasie gegee het.
Die Kultuurnetwerk het die spesiale dag van herinnering gebruik om die jeug aan te spoor om hul geskiedenis te onthou en te herdenk. Kobie Ströh, ‘n geskiedenisliefhebber en lid van die GGSA, het vroeër vanjaar ‘n videokompetisie geloods vir kinders uit die gemeenskap, om hulle by die konsentrasiekampdag betrokke te maak.
Die kompetisie het die jeug die geleentheid gegee om die nalatenskap van hul Afrikaner-geskiedenis eerstehands te beleef en dit uit te beeld in kort video’s wat hulle by die kerkhof moes maak.
Vir Kobie en almal betrokke by die Vaal-Kultuurnetwerk is dit van kardinale belang om die jeug betrokke te kry en te leer van hul erfenis, aangesien hulle die vaandel verder moet dra.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
