Local newsNewsNews

Elke pop is ‘n unieke kunswerk

Regte reborns is kunswerke. Hier is geen sprake van kortpaaie vat of massaproduksie nie. Elke pop word met baie liefde aanmekaar gesit en geverf.

VANDERBIJLPARK. – Teen die werkskamer se muur is ‘n verskeidenheid stootwaentjies gemonteer.

Die meeste dateer uit vergange se dae. Die grootste een staan net so duskant die werktafel. Die raamwerk van hierdie waentjie dateer uit 1835.

Meira Scholtz sê haar pa het eendag oor die radio gehoor hoe die stootwaentjie geadverteer word.

Dit is blykbaar in ‘n solder van ‘n ou huis in Parys gevind. Die babawaentjie huisves nou vir Wendy, ‘n pop wat oorspronklik in die 1960’s aan Meira se ma behoort het.

Wendy in haar baie ou stootwaentjie. Die waentjie is in ‘n solder van ‘n huis in Parys ontdek. Foto: Gerda Bruinette

Die werkkamer is vol poppe. Die meeste is klaar en wag vir hul nuwe eienaars om hulle te kom haal, maar daar is ook die wat nog aan gewerk word.

Meira maak reborns vir ‘n lewe. Dis poppe wat handgemaak en geverf word om soos regte babas of kleuters te lyk.

Sy het die eerste keer met die kunsvorm kennis gemaak in 2005 by die Aardklop Kunstefees waar sy so ‘n pop vir haar dogter bestel het.

Reborns is duur. Elke pop is uniek. Die koppe, arms en bene word spesiaal deur kunstenaars (almal in die buiteland) ontwerp. Daar word dan ‘n gietvorm van die ontwerp gemaak en vandaar word die stukke in viniel gegiet. Ons voer die los stukke dan in,” vertel Meira.

Al die dinge het sy nie geweet die dag toe sy vir haar dogter die pop bestel en afbetaal het nie.

“Ons het op daardie stadium ‘n Yorkie gehad en die het per ongeluk een van die vingertjies van die pop afgebyt. Tranedal in die huis! Ek het begin navorsing doen oor hoe om die pop te herstel. ‘n Vrou het vir my ‘n DVD uit Duitsland gestuur en net daar het die gogga gebyt.

“Ek was intussen al op heelwat kursusse en bied ook klasse aan. Onthou, elkeen is uniek, want dit hang van die kliënt af of die pop se oë oop of toe sal wees, regte of geverfde hare sal hê, en watter ander kenmerke die pop sal hê.”

Dit neem haar tot vyf dae om een pop se hare te doen. Sy gebruik gewoonlik sybokhaar van Angorabokke en steek elke haar afsonderlik met ‘n spesiale naald in.

Daar is een spesiale poppie in wit wat haar na aan die hart lê.

Meira sê hierdie is haar droombaba, want die poppie lyk net soos haar dogter gelyk het toe sy gebore is. Foto: Facebook

“Die babatjie lyk net soos wat my dogter gelyk het toe sy gebore is. Marie is in 1997 op 34 weke gebore en het net 1.25kg geweeg.

“Ten spyte van wat die dokters destyds gesê het, het sy sonder enige permanente skade oorleef. Sy was ‘n wonderwerk.

“Daarom noem ek ook my besigheid Meira’s Miracle,” vertel Meira.

Deur die jare heen het Meira al 1 555 poppe gemaak. Van hulle is selfs al oorsee gestuur, maar die meeste het huise in Suid-Afrika gevind.

Regte reborns is kunswerke. Hier is geen sprake van kortpaaie vat of massaproduksie nie.

Elke pop, Meira noem hul babatjies, word met baie liefde aanmekaar gesit en geverf.

Vir meer inligting besoek gerus haar facebookblad, Meira’s Miracle.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button