Man kritiek ná ongeluk met vragmotor by Deneysville
’n Man in sy 40’s is in ’n kritieke toestand nadat hy in ’n botsing met ’n vragmotor betrokke was.
VEREENIGING. – Die ongeluk tussen die ligte motorvoertuig en die vragmotor het Donderdagmiddag 1 Julie op die R549 naby Deneysville gebeur.
Volgens Russel Meiering, kommunikasiebeampte by ER4, het nooddienswerkers om 15:00 by die toneel opgedaag.
Beamptes van ’n ander noodhulpdiens was in daardie stadium reeds op die toneel.
“Die ligte motorvoertuig het aan die kant van die pad gestaan met die bestuurder wat in die wrak vasgekeer is.
“Die Midvaal-brandweer het reddingskake gebruik om die man uit die wrak te bevry.
”Nadat hy bevry is, is daar vasgestel dat hy in ’n kritieke toestand was,” vertel Meiring.
Volgens Meiring is die man is op die toneel behandel en later per helikopter na ’n privaathospitaal geneem vir dringende sorg.
