Popspeel is nie net vir dogtertjies nie
Mitzi ontwerp en maak popklere en gebruik haar poppe as modelle tydens tema uitstallings by haar huis.
HEIDELBERG. – Sy het 124 poppe van verskillende groottes.
Die meeste is American Girl Dolls uit die VSA, maar dan is daar ook die uit Duitsland, Engeland en Finland.
“Die poppe is my super modelle”, sê Mitzi Heunes, eienares van Just 4 Dolls by Mitzi.
Die poppe paradeer gereeld in nuwe klere en bykomstighede.

“Ek ontwerp en maak klere vir poppe”, vertel Mitzi wat agt jaar gelede haar eerste regte American Girl Doll gekry het en vir die pop klere gemaak het.
Dit was in ‘n besonderse moeilike tyd vir Mitzi wat op daardie stadium vir lank met ‘n rolstoel oor die weg moes kom nadat sy albei haar voete gebreek het.
In die tyd het sy verskeie kursusse in popklere en patroonontwerp gedoen.
“Ek is tans in kontak met 60 ontwerpers van oor die wêreld. Hulle ontwerp uitrustings vir poppe en dan stuur hulle die patrone aan vir mense soos ek wat dit vir hul toets.”
Mettertyd het Mitzi besluit om die popklere te verkoop.

Op daardie stadium het hulle nog in die Laeveld gebly en sy het ‘n kamer in haar huis omskep waar daar popuitstallings gehou is.
“Ek het die poppe aangetrek volgens ‘n spesifieke tema, bv. markdag en dan kon die kinders die uitstalling besoek en popklere koop.
“Daar was gewoonlik ook koekies, koeldrank en ‘n geskenkie vir almal wat kom kuier het.”
Sy en haar man het onlangs na Heidelberg verhuis. Einde April kon mense vir die eerste maal Just 4 Dolls by Mitzi besoek in hul nuwe tuiste.
Mitzi sê sy doen dit ter wille van die kinders.

“Hul gesiggies straal wanneer hulle hier inkom en al die poppe en bedrywighede aanskou. Dan speel hul sommer lekker.”
Sy voel juis dat kinders meer verbeeldingryke speeltyd moet hê en minder skermtyd.
Enige een kan met poppe speel, dis lankal nie meer net vir dogtertjies nie.
“Ek het al heelwat tieners ontmoet wat die popklere aankoop en die poppe dan gebruik om hul fotografie te oefen of om te leer om ook klereontwerp te doen,” sê sy.
Alhoewel Mitzi nie self poppe regmaak nie, het eienaars al met stukkende poppe by haar opgedaag.
Gelukkig weet sy van drie pophospitale in Suid-Afrika. Elke “siek” pop word eers ‘n hospitaal-jurkie aangetrek alvorens die pop weggestuur word.
Sy ontwerp ook popklere op spesiale versoek.
“Ek moes al heelwat popklere maak sodat dit presies soos hul eienaars se klere lyk, van konsertuitrustings tot ‘n spesiale verjaardagrokkies.
“Ek probeer enige iets ontwerp wat ‘n kind se verbeelding kan uitdink. Heelwat poppe het al unicorn uitrustings gekry,” lag Mitzi.
Die Covid-19 regulasies lê besoeke bietjie aan bande, maar besoek gerus haar facebookblad, Just 4 Dolls by Mitzi vir meer inligting.
