Vaalpark ontskoke oor “onwettige” huis
VAALPARK. – Inwoners in Vaalpark is warm onder die kraag. Die rede vir die inwoners se ongelukkigheid is ‘n woning wat na bewering sonder bouplanne op ‘n stuk oop grond in Vlaeberg straat opgerig is. Volgens inwoners wat versoek het om anoniem te bly, is die kwessie by die Metsimaholo Munisipalteit aangemeld. Die huis is …

VAALPARK. – Inwoners in Vaalpark is warm onder die kraag.
Die rede vir die inwoners se ongelukkigheid is ‘n woning wat na bewering sonder bouplanne op ‘n stuk oop grond in Vlaeberg straat opgerig is.
Volgens inwoners wat versoek het om anoniem te bly, is die kwessie by die Metsimaholo Munisipalteit aangemeld.
Die huis is glo onlangs ontdek toe daar ‘n veldbrand was wat lede van die gemeenskap help blus het. Die huis is glo glad nie volgens bouregulasies gebou nie. Volgens ‘n besorgde inwoner het die munispaliteit by navraag vir hulle gesê: “Wat het dit met julle te doen.”

Daar is ook glo geen krag of riool afvoerpype na die huis aangelê nie.
“Dit is baie vreemd dat ‘n huis van dié gehalte in Vaalpark toegelaat word om gebou te word sonder dat enige planne in plek is of afgeteken is. Daar is geen erf nommer en geen erfbelasting word tans deur die persoon betaal nie. Die riool en vullis word agter die huis verbrand en besoedel die omgewing se lug. Die waterpyp is volgens ooggetuies self deur die huis eienaar aangelê deur die pad oop te kap. Dit is beskadiging van staatseiendom,” het een van die inwoners aan Vaalweekblad gesê.

Die eienaar van die beweerde onwettige huis het glo sy bure ook al gedreig en vir hulle gesê hulle moet hieraan gewoond raak want sy vriende gaan ook daar kom bly.
Vaalweekblad het Dr. Gino Alberts, die hoof van kommunikasie by die Metsimaholo Stadsraad, om kommentaar genader maar wag nog vir amptelike terugvoering van die munisipaliteit.
