
Tebello Mabusela, ’n sielkundedosent by die Noordwes-Universiteit (NWU), bespreek die verskillende faktore wat moontlik tot boeliegedrag aanleiding kan gee, asook die tipe ondersteuning wat aan ’n “boelie” verleen kan word.
Volgens Tebello is die wyse waarop ’n kind grootword, moontlike behoeftes wat nie aandag ontvang het nie, sosio-ekonomiese kwessies en blootstelling aan ’n gewelddadige en aggressiewe omgewing waar hulle moes veg om te oorleef ’n paar van die faktore wat kan veroorsaak dat ’n kind boeliegedrag openbaar.
Hulp wat vir boelies aangebied kan word
Erge straf is gewoonlik die algemeenste metode wat gebruik word. Dit maak egter net die gedrag erger.
Tebello hou vol dat boeliegedrag ook met geestesgesondheidsprobleme soos angs, depressie en persoonlikheidsversteurings verband hou.
“Daar moet aan sekere sielkundige behoeftes van ’n kind voldoen word vir hulle om goed as ’n volwassene te kan funksioneer. Wanneer daardie behoeftes nie bevredig word nie, en verwerping, aggressie en verwaarlosing ervaar word, ontwikkel ’n kind angs en depressie, wat in aggressie en woede teenoor hulleself en ander manifesteer.”
Ondersteuning van gesondheidsorgkenners soos sielkundiges, maatskaplike werkers en psigiaters kan boelies help om trauma uit hulle kindertyd wat as woede en aggressie manifesteer, te verwerk.
Hierdie gedrag kan deur psigo-opvoeding en ander intervensiemetodes verander word, soos om selfbewussyns-, gesonde hanterings-, positiewe aanpassings- en aanpasbaarheidsvaardighede aan te leer.
Tebello voeg by dat as boelie-eienskappe nie gekorrigeer word nie, dit tot in volwassenheid kan voortduur.
“Hierdie volwassenes sal sukkel om hulle emosies te beheer, hulle sal nie insig hê in dié dinge wat hulle gedrag veroorsaak nie, en hulle sal op alle gebiede van hulle lewens gewelddadig en aggressief teenoor hulleself en ander wees,” sluit sy af.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
