Local newsNationalNewsNews

Bekende dominee groet op 90

Die afsterwe van ds. Johannes “Jim” Matthysen Kearney, oudleraar van die NG-gemeente Meyerton-Suid, laat ‘n groot leemte in die dorp en by Huis Meyerton, die aftreeoord vir bejaardes waar hy die afgelope paar jaar gewoon het.

*Die storie is in die gedrukte uitgawe van Vaalweekblad (7 Julie 2021).

MEYERTON. – Ds. Kearney, is op 2 Julie by die Life Springs Parkland Hospitaal in die ouderdom van 90 jaar oorlede.

Hy was die laaste paar jaar rolstoelgebonde en is sowat drie weke gelede in die hospitaal opgeneem nadat hy siek geword het.

Die oudleraar, wat op 8 Mei 1931 in Sundra gebore is, was vir jare lank leraar by die NG-gemeente Meyerton-Suid en was baie bekend in die dorp.

Voordat hy hom in Meyerton gevestig het, was hy ook aan die NG-gemeente Enkeldoorn in die ou Rhodesië (vandag Zimbabwe) verbonde.

Volgens Brenda Spamers, bestuurder van Huis Meyerton, het ds. Kearney sedert 2016 in die aftreeoord gewoon nadat sy vrou, Alida Kearney (née Theron) oorlede is.

Sy beskryf ds. Kearney as ‘n positiewe man wat tot op sy oudag nog inwoners bygestaan het, die Woord verkondig het en berading gegee het.

Hy was geliefd en gewild onder personeel en inwoners van Huis Meyerton. Spamers onthou dat ds. Kearney baie roetinevas was en vertel dat hy soos klokslag op ‘n sekere tyd van die dag saam met die inwoners TV gekyk het, teen ‘n spesifieke tyd geëet het en dan by tye teruggetree het en nie gepla wou word nie.

“Dominee se plekkie is leeg,” sê sy.

Ds. Kearney se dogter, Engela Fourie, onthou haar pa as ‘n vriendelike man wat dikwels uit sy pad sou gaan om sy medemens te help.

Hy word oorleef deur sy dogter en kleinseun, Jaco.

Volgens Engela sal ‘n privaat diens later gehou word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button