Mense tussen 35 en 49 kan vanaf 15 Julie vir entstof registreer
Die registrasie vir inentings vir mense tussen 35 en 49 sal op 15 Julie begin.
Gesondheidswerkers, onderwysers en mense bo 60 het al hul beurt gehad, mense bo 50 word tans ingeënt teen Covid-19 en volgens die waarnemende minister van gesondheid, Mmamoloko Kubayi Ngubane sal mense tussen die onderdom van 35 en 49 reeds op 15 Julie kan registreer om ingeënt te word.
Ngubane het op ’n virtuele perskonferensie gepraat. Daar is bevestig dat daar nou reeds meer as 4 miljoen inentings landwyd gedoen is en dat die regering beoog om teen die einde van volgende week 250 000 mense per dag in te ent.
Die land gaan tans gebuk onder die derde vlaag van Covid-19 met 63 499 mense wat al weens die dodelike siekte gesterf het.
Die aantal kumulatiewe gevalle staan op 2,1 miljoen. Meer as 1,8 miljoen mense het al herstel, wat beteken dat die herstelkoers op 87,2% staan.
