Branson vlieg ruimte toe!
Die Britse miljardêr, sakemagnaat en Virgin-stigter Richard Branson sal vandag (11 Julie 2021) sy jarelange droom om na die ruimte te reis verwesenlik en as alles goed gaan die weg baan vir soortgelyke kommersiële ruimtevlugte.
Virgin Galactic se ruimtevliegtuig styg om 15:00 vandag (Sondag 11 Julie) op en sal vir Branson na die ruimte neem.
Die vlug behoort as alles goed gaan 90 minute te duur en sal die weg baan vir ander kommersiële ruimtevlugte in die toekoms.
Branson sal op hierdie ruimtevliegtuig vergesel word deur vyf ander mense.
Dit sluit die vlieëniers van die ruimtetuig VSS Unity, Dave Mackay en Michael Masucci, sowel as die vlieëniers van die dra-tuig VMS Eve, C.J. Sturckow en Kelly Latimer, in.
Dan is daar ook Beth Moses, Virgin Galactic se hoof ruimte-instrukteur, en Sirisha Bandla, Virgin se vise-president van regeringsaangeleenthede en navorsing.

Die sogenaamde dra-tuig (“carier vehicle”), VMS Eve, sal die ruimtetuig, VSS Unity, tot ’n hoogte van 15km neem, waarna die VSS Unity gelanseer sal word vir die ruimtereis.

Branson, wat oor ’n week 71 jaar oud word moes streng toetse ondergaan om te bepaal of hy vir so ’n uitdaging geskik is.
Indien die vlug ‘n sukses is kan dit beteken dat gewone mense (met baie geld) binnekort sal kan betaal om op sulke ruimtevlugte te gaan. Kaartjies vir dié ruimtevlugte sou voorheen sowat $250 000 gekos het (so rapsie meer as R.5 miljoen) maar is onderhewing aan verandering.

Mede-miljardêr en Amazon-stigter, Jeff Bezos, wie se maatskappy Blue Origin ook werk om toekomstige kommersiële ruimtevlugte moontlik te maak, het Branson op Twitter gekap oor Branson-hulle net tot ‘n hoogte van ongeveer 90 km bo die aarde sal reis, terwyl die ruimte volgens Bezos eintlik eers werklik by die Kármán-lyn – ’n punt wat ongeveer 100km bo die aarde lê – begin.

Bezos het nogtans vir Branson sterkte toegewens met sy vlug.
Die ruimtevlug sal lewendig uitgesaai word. Besoek Virgin Galactic se Facebook-blad vir die skakel.
