
President Ramaphosa het vanaand in sy toespraak ‘n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om saam te staan om die oppergesag van die reg (Rule of Law) in stand te hou en die roete van vrede en vernuwing, eerder as geweld en vernietiging, te kies.
Hy sê die lewensverlies van die afgelope dae (6 mense het in Gauteng gesterf en 4 in KZN), die plundering van persoonlike eiendom en besighede, die afbrand van trokke en die blokkering van paaie is onaanvaarbaar en veroorsaak groot angs by baie Suid-Afrikaners.
Danksy wetstoepassers is 166 verdagtes in KZN in hegteis geneem, en 223 in Gauteng. Hy sê hoewel sommige meen die geweld het dalk wortels in politieke protes, wat die uitvloeisel van frustrasie en woede kan wees, is daar geen politieke doel wat sulke geweld en vernietiging regverdig nie.
“Wat ons in die afgelope dae gesien het, is opportunistiese, kriminele optrede van mense wat chaos saai as ‘n dekmantel om te plunder en te steel,” het hy gesê. Hy sê baie gebiede steier nog onder die afgelope dae se gebeure.
“Mense voel vanaand bang en angstig, hulle voel bedreig en geïntimideer en baie werkers weet nie of hulle more kan teruggaan werk toe nie. Die gemeenskap ly omdat gesondheidswerkers nie kan gaan werk of by hul werksplekke kan uitkom nie. Die ware slagoffers van die geweld en vernietiging wat tans aan die gang is, is die werkers, die trokdrywers, sake-eienaars en die ouers en families van die mense wat hul lewe verloor het.”
Ramaphosa het gewaarsku dat daar ‘n groot risiko vir voedsel- en medisynetekorte in die nabye toekoms kan wees omdat trokke nie kos na winkels kan neem nie en medikasie nie by apteke afgelewer kan word nie. Hy het ook groot kommer uitgespreek omdat die geweld groot ontwrigting in die uitrol van die inentingsprogram veroorsaak het, aangesien dit tydelik by baie sentrums gestaak moes word.
Hy sê die plundering en anargie lei tot meer geweld, verwoesting en lyding. Dit veroorsaak meer werksverliese, meer armoede en die ergste: lewensverlies.
Verteenwoordigers van verskeie sektore, insluitend die polisie, intelligensie-buro’s, gemeenskapsleiers en sakelui sal twee keer per dag met Ramaphosa vergader om hom raad te gee sodat die huidige situasie ten beste bestuur kan word. Die land se onderskeie intelligensiestrukture van die polisie en die weermag sal nu op nasionale vlak saamwerk.
Hy sê dit is noodsaaklik dat kalmte en stabiliteit na alle dele van die land so gou as moontlik moet terugkeer en dat die infrastruktuur wat mense se inkomste beskerm, herstel moet word.
“Ons sal al ons beskikbare vermoëns mobiliseer om orde te herstel,” het hy belowe. Die SAPS het intussen maatreëls in plek gestel om alle polisisielede wat op verlof of op rustyd was, op te roep vir diens op die grond. Brandpunte word geïdentifiseer sodat verdagtes wat vir die geweld verantwoordelik is, vasgetrek en vervolg kan word. Die SA Weermag is intussen ontplooi om die Polisie in brandpunte by te staan.
Ramaphosa het die polisie bedank, wat verdere bloedverlies by sekere brandpunte verhoed het danksy vinnige optrede. Hy het ook wense vir spoedige beterskap oorgedra aan vier polisielede wat in die afgelope dae se geweld beseer is.
“Ons het reeds die verskriklike effek van korrupsie, die misbruik van mag en die verwaarlosing van noodsaaklike pligte gesien. ‘n Proses van heling en rekonstruksie het in ons land begin. Ons kan nie toelaat dat ‘n klein groep ons stop op ons pad na ekonomiese rekonstruksie nie,” het hy gesê.
***********************************************************************************************************************
