Vinnige en ferm optrede nou nodig, meen Vryheidsfront Plus
Die Vryheidsfront Plus het in ’n verklaring gesê die onrussituasie en geweldpleging op baie plekke in Suid-Afrika is onaanvaarbaar en vinnige en ferm optrede is nodig om dit te stuit.
Die VF Plus-leier Pieter Groenewald loop het ’n beroep op almal in die land gedoen om kalm te bly en nie onverantwoordelik op te tree terwyl gemoedere hoog loop nie.
“Dit is duidelik dat misdadige elemente hier werksaam is en dat die Zuma-aangeleentheid as rookskerm misbruik word om te steel en plunder.
“Die VF Plus verwelkom die ontplooiing van die weermag (SANW) in sekere gebiede. Hierdie optrede moet vinnig en kragdadig wees aangesien die onrus reeds momentum opgebou het,” het Groenewald gesê.
Groenewald meen die regering het misluk aangesien daar voorsien moes word dat opstandige optrede sou uitbreek indien oud-president Jacob Zuma wel tronkstraf sou kry.
“Die intelligensiedienste in Suid-Afrika is duidelik onbevoeg. Indien die staatsveiligheidsagentskap (SVA) sy werk behoorlik gedoen het, sou al die vooraf-tekens genoeg waarskuwing gebied het oor presies dit wat nou besig is om in die land af te speel,” meen Groenewald.
“Die belastingbetalers en sakelui van Suid-Afrika moet weereens die prys betaal vir die onvermoë van die regering om wet en orde te handhaaf.
“Dit wil tans voorkom of die regering net beheer oor wetsgehoorsame burgers het.
“Die gebeure sal sonder twyfel ’n negatiewe impak hê op beleggings wat onder die huidige ekonomiese omstandighede in die land nie bekostig kan word nie,” sê Groenewald.
Volgens hom is dit nie net buitelandse beleggers wat afgeskrik word nie, maar ook plaaslike beleggers wat sien hoe eiendom en sakepersele vernietig en geplunder word.
Volgens Groenewald hou die VF Plus die situasie noukeurig dop en is plaaslike en gemeenskapsveiligheidstrukture op ’n gereedheidsgrondslag en sal hul eiendom en hul gesinne beskerm.
“Die regering moet vinnig en ferm optree om die boodskap te stuur dat die vlaag van misdadigheid, vandalisme en plundery in die land nie geduld sal word nie,” vra Groenewald.
