Bou sonder toestemming plaas druk op bestaande infrastruktuur
Strukture wat onwettig en sonder toestemming opgerig word, sonder dat die regte prosedure gevolg word, is glo een van die hoofoorsake van SE7 in Vanderbijlpark se kragprobleme.
VANDERBIJLPARK. – Volgens rdl. Yvonne Coertze, raadslid vir Wyk 9 van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, het daar die afgelope tyd verskeie ontwikkelinge op erwe in die gebied naby die Vaal Universiteit van Tegnologie (VUT) opgespring sonder dat die nodige toestemming van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit vooraf bekom is of die eiendomme gehersoneer is.
Coertze en rdl. Elize Aucamp, raadslid vir Wyk 45 van die munisipaliteit, sê hulle het ondersoek ingestel na verskeie studentehuise in die area en kon geen bewyse vind dat hierdie geboue wettig is of dat toestemming by die raad bekom is nie.
Aucamp verduidelik dat wanneer ‘n residensiële eiendom vir ‘n nuwe gebruik, soos byvoorbeeld studentebehuising, ingerig word, toestemming eers by die raad bekom moet word en die gebou eers gehersoneer moet word.
Wanneer die eiendom nie gehersoneer word vir die nuwe gebruik nie, beteken dit dat die munisipaliteit nie kapitaalbydraes van die eienaar van die perseel sal ontvang nie.
Die kapitaalbydraes wat deur inwoners betaal word, word aangewend om bestaande infrastruktuur op te gradeer en sonder dit kan die infrastruktuur nie opgegradeer word nie.
Gevolglik hou die infrastruktuur nie tred met die toename in die nuwe ontwikkelinge nie.

Aucamp en Coertze meen die bywet-eenheid, landgebruiksbestuursdepartement en boukontrole-departement, die elektrisiteitsdepartement en die munisipaliteit se inkomste-departement is almal aandadig aangesien hulle toegelaat het dat die situasie voortgaan sonder dat daar teen die oortreders opgetree word.
Aucamp meen die projekte wat sonder toestemming voortgaan, veroorsaak enorme probleme vir belastingbetalende inwoners wat wel hul kant bring.
“Dit plaas druk op die bestaande infrastruktuur,” verduidelik sy.
Hannetjie Marcelia, ‘n inwoner van SE7, het aan Vaalweekblad vertel dat kragonderbrekings gereeld in die buurt voorkom en dat inwoners dikwels vir weke lank sonder krag sit.
Dit kos inwoners ook geld aangesien hulle dan ekstra moet betaal om hul kragopwekkers aan die gang te hou. Buiten die kragprobleme, sukkel inwoners van die ook met probleme soos onwettige storting van rommel en enorme slaggate. *
Vaalweekblad het verlede week navrae aan Makhosonke Sangweni, ‘n woordvoerder van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit gerig oor verskeie studentehuise in SE7 wat glo onwettig en sonder toestemming gebou is, sowel as ander probleme in die buurt. Hy het teen spertyd nie op navrae gereageer nie. Vaalweekblad sal sy kommentaar plaas indien ons dit ontvang.
