LifestyleNews

Wyle Sally Bruwer: ”Siek of gesond, sy was elke oggend om 06:00 reeds op haar pos”

Hoewel mev. Bruwer se afsterwe ‘n groot leemte in die gemeenskap laat, sal haar twee dogters, Selma en Katrien, met die hulp van Lochvaal Emfuleni Welsyn se bestuur, voortgaan om die drome wat sy nog vir die sentrum gehad het, te help vervul.

VANDERBIJLPARK. – Die legendariese Vaaldriehoekse welsynwerker, mev. Sally Bruwer (78), se aardse lewenstaak het op 6 Julie vanjaar geëindig, maar haar nagedagtenis gaan voortleef in alles wat sy die afgelope 40 jaar vir mense in nood tot stand gebring het.

Sally (Nagel) Joubert is op 12 Desember 1942 in Springs as een van vyf kinders gebore. In 1959 is sy met Dirk Bruwer getroud, en ses kinders is uit die huwelik gebore: Johan, Suzette, Alwyn, Katrien, Lorinda en Selma. Sy het gedurende haar leeftyd vier van haar kinders aan die dood afgestaan – eers Johan, toe Alwyn en twee jaar gelede, vir Suzette en Laurinda, kort na mekaar.Ouma Sally, soos haar personeel en geliefdes haar genoem het, het haar eerste naastediens by die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) tussen 1995 en 2000 begin doen. Sy het onder andere in die hoofbestuur gedien en was in ‘n stadium ook streekleier. In 2001 koop sy ‘n hoewe, Nanescol 161 in Vanderbijlpark – ‘n leë stuk aarde met niks op nie. Dit was die begin van die uitgebreide en nou bekende Lochvaal Emfuleni Welsyn, Gesinsorg, Deurgangshuis, Ontwikkeling- en Opleidingsentrum.

Ouma Sally kon heerlike verhale vol kwinkslae oor die vroeë dae van die sentrum vertel – van hoe huislose mense in nood hier aangekom het en sy nie die hart gehad het om hulle weg te wys nie. Dan het sy maar ‘n tent of skuiling vir hulle laat oprig, ‘n matras of kombers vir hulle gegee en hulle ingeneem. Dit was die begin van die Lochvaal Emfuleni Deurgangshuis wat gou daarna ‘n geregistreerde konstitusie gekry het en in 2003 as ‘n NPO by die Departement van Sosiale Ontwikkeling geregistreer is.

Deur die jare is permanente geboue opgerig, soos ‘n eetsaal, aparte sale vir mans en dames, kamers vir getroudes sonder of met kinders, en ‘n kleuterskool. Kinders was altyd haar prioriteit, daarom is ‘n deeglike Kinderbeskermingsbeleid ook in plek gekry. “Sy was uitsonderlik godsdienstig en die hele Lochvaal Emfuleni Welsyn se bestaan was gebaseer op Christelike waardes, en sal so voortgaan,” sê een van haar personeellede. “In 2019 het sy die Hands of Hope-projek begin om moeders en kinders te beskerm. Dié projek was ter ere aan haar twee ontslape dogters wat sy in die bestek van vyf weke uitmekaar verloor het.

“Een van Ouma Sally se grootste drome is vervul toe ons vroeër vanjaar ons eie gemeente gestig het. Die kerk staan bekend as die LEW Lighuisbediening onder leiding van pastoor Sewes Smit. Hoewel ons nog nie ‘n kerkgebou het nie, dien die eetsaal steeds soos al die jare as kerk. Ouma Sally het baie van Pinksterkoortjies gehou en het ons elke Woensdag-, Vrydag- en Saterdagaande laat oefen sodat ons Sondae lekker kon sing.

”Sy was elke oggend om 06:00 reeds op haar pos vir die oggendvergadering, maak nie saak of sy gesond of siek was nie.

“Omdat hoë bome altyd die meeste wind kry, was daar tye wat daar baie aantygings teen haar gemaak is en as ons wou hê sy moes haarself verdedig, was haar woorde altyd: “Kind, laat staan net. Solank ek en God weet wat die waarheid is, maak dit nie saak nie”.

“Sy was ‘n mense-mens en die beste rolmodel wat enige mens in jou lewe kon hê. Haar kamer by die kantoor was altyd ‘n miernes van bedrywigheid. Sy was soos ‘n besige bytjie en het altyd geweet van alles wat oral gedoen moes word. Op dae wat daar besonder baie werk op die agenda was, was haar geliefkoosde sêding: ‘Nou moet ons dans, Kariena!’ Almal wat Ouma Sally geken het, gaan haar op ‘n unieke manier onthou, maar wat die meeste gemis gaan word, is haar geestelike leiding, haar lag, haar liefde, haar omgee, en bowenal, haar groot geloof in die Here.

Hoewel mev. Bruwer se afsterwe ‘n groot leemte in die gemeenskap laat, sal haar twee dogters, Selma en Katrien, met die hulp van Lochvaal Emfuleni Welsyn se bestuur, voortgaan om die drome wat sy nog vir die sentrum gehad het, te help vervul.

Buiten haar dogters word mev. Bruwer oorleef deur 10 kleinkinders, 10 agterkleinkinders en al die mense van die oord, wat vir haar soos bloedfamilie was.

‘n Private begrafnisdiens is op 14 Julie vanuit die LEW Lighuisbediening deur pastoor Sewes Smit gelei.

 

Wyle mev. Sally Bruwer (78)

**************************************************************************************************

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button