Local newsNationalNewsNews

“Kraal” van sandsteen en draad by die Vredesmonument opgerig

Daar is 'n nuwe besienswaardigheid op die terrein waar die Vredesmonumnent staan.

VEREENIGING. – Lede van die FAK se Kultuurnetwerke in die Vaaldriehoek en Vrystaat, Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika (GGSA) en die Weermagvereniging (SAWV) het oor die naweek weereens hul moue opgerol om sandsteenhoekpale eie aan die Vrystaat by die Vredesmonument in Vereeniging in die vorm van ’n “kraal” te plant en doringdraad met populiersparre tussenin te span om dít te omheim.

 

Sandsteen hoekpale word by die terrein van Vredesmonument van ‘n bakkie gelaai. Foto: Christiaan Cloete

Verlede naweek het dié manne eers opmetings gaan doen en toe gate gegrawe om die eg Vrystaatse sandsteenhoekpale daar te kan plant.

Die FAK het masjinerie gehuur om die groot werk te verrig en gesorg vir lafenis vir die manne se dorstige kele, die SAWV se Kiewiet-tak het wors gebring en gebraai vir lekker worsbroodjies en die GGSA het nog mannekrag gebring.

Daar is weer lekker gebraai en gekuier toe die enorme taak voltooi is.

Draad word om die hoekpale gespan om ‘n “kraal” te vorm. Foto: Christiaan Cloete

 

Deon van der Watt, ’n boer in Tweeling in die Vrystaat en wie onlangs Covid-19 oorleef het, het die nege hoekpale, wat bestaan uit sandsteen, op sy plaas, aan die FAK geskenk om “te help bou aan die verfraaiing van ons erfenis”. Hy het nog drie sulke “pale” geskenk, wat eersdaags as sitbankies gebruik gaan word.

 

Van der Watt vertel dié pale het ’n baie interessante storie.

 

Dit is uit sandsteen-rotsklipbanke op sy plaas, Verkykerskop, uitgebreek. Vroeër jare is huise en kerke veral in die Oos-Vrystaat met hierdie sandsteen gebou. Dié klippe was vierkantig gekap uit die klipbanke.

Deon van der Watt, ‘n boer van Tweeling in die Oos-Vrystaat, het die sandsteen hoekpale wat op sy plaas was geskenk. Foto: Christiaan Cloete

 

“Die afvalpunte is gebruik om pale te vorm, waarmee die oumense veral dié pale gebruik het as buitelyne op hulle plase in die Oos-Vrystaat. Hier op my plaas staan hier nog ’n lyndraad van oor die 3 km, wat elke 15 m só klippaal ingeplant het. Tussendeur die klippale is populier droppers gebruik. Die geheim van die populier dropper is dat niks hom vreet nie. Al die houtbalke van die ou huise van meer as 80 jaar oud in dié gebied, is van populierbome gemaak. Bloekombome wat algemeen in die Vrystaat voorkom, word maklik deur termiete gevreet, maar die populierboom glad nie.”

 

Hy sê dit was die manier hoe drade met sparre van populierbome gespan is voor ysterpale die norm geword het.

 

“Die spesifieke klippale is uitgehaal (op my plaas), waar ons lande groter gemaak het, want ek probeer om so ver moontlik die oorspronklike pale op die buitelyne van die plaas daar te hou vir die geskiedenis daarvan.”

Deon van der Watt help om draad om die sandsteenpale te span. Foto: Christiaan Cloete

 

Jan-Danie Malan, projekorganiseerder van FAK-Kultuurnetwerke in die Vrystaat, sê: “Die samewerking van kultuurnetwerkvrywilligers oor provinsiale grense heen in ’n tyd van nood herinner mens weer aan die tye in ons geskiedenis waar daar in groot nood saamgestaan is en selfdoen die

hoeksteen van vooruitgang geword het. Baie dankie aan oom Deon wat die skenking gemaak het van die sandsteenhoekpale en sy seun wat leiding geneem het met die plant en span van die drade. Baie dankie ook aan elkeen wat weer hand bygesit het.”

Malan verduidelik dat die “kraal” as veilige hawe sal dien om kultuurskatte, waaronder granietreplikas van die Voortrekkermonument, genls. Christiaan de Wet en Koos de la Rey se standbeelde en ander in uit te stal. Dié skatte sal binnekort daar uitgestal word en sal agter slot en grendel toegesluit word. Die publiek kan dan per afspraak daarna kom kyk.

 

Die FAK nooi gemeenskappe regoor Suid-Afrika uit om ook selfdoenaksies in werking te stel en te kom help om ons erfenis te bewaar en te verfraai.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button