NationalNews

Oudredakteur van Vaalweekblad oorlede

Hy het Maandag rustig in die versorgingsoord waar hy onlangs opgeneem is, beswyk.

 

‘n Geliefde oudredakteur van Vaalweekblad, mnr. Willie Buys, is Maandagoggend in die ouderdom van 76 oorlede.

Willie was vanaf 1995 tot 2003 hoofredakteur van Vaalweekblad en Ster.

Hy het sy loopbaan in die joernalistiek as 19-jarige by die destydse Transvaler in Johannesburg begin en deur die hele spektrum van koerantjoernalistiek gewerk. Hy was onder andere hoofverslaggewer of nuusredakteur by verskeie dagblaaie en Sondagkoerante voordat hy by Vaalweekblad aangesluit het.

As redakteur van die destydse Perskor Nuusdienste was hy onder meer verantwoordelik vir die bestuur van buitelandse kantore. Hy was ook 10 jaar redakteur van verbruikersake en bylae by die dagblad Beeld, en is deur die jare met verskeie van die land se hoogste joernalistieke toekennings vereer. Hy het etlike jare in die Forum vir Gemeenskapspers-joernaliste gedien, onder andere as voorsitter.

Personeel van Vaalweekblad wat die voorreg gehad het om onder sy leiding te werk, onthou hom as ‘n goedgebalanseerde mens wat ‘n hoë premie op integriteit, eerlikheid en noukeurigheid geplaas het.

Sy waagmoed om die waarheid oop te krap het hom by meer as een geleentheid ongewild by gure karakters in die Vaaldriehoek gemaak. In 1998, kort nadat ‘n mislukte sluipmoord op mnr. Peter Mabuye, destydse redakteur van Vaalweekblad se susterskoerant Vaal Vision uitgevoer is, is daar ook een nag op Willie se huis in Meyerton geskiet. Dit was nadat die twee redakteurs destyds reeds begin het om korrupsie en wanpraktyke in die plaaslike stadsraad aan die lig te bring. Die kwalik bedekte waarskuwing het Willie egter nie van stryk gebring nie maar hom eerder meer doelgerig gemaak om onwettige praktyke in die plaaslike bestuur van die laat 1990s te onthul.

Een van Willie se prysenswaardigste projekte gedurende sy redakteursjare by Vaalweekblad was die stigting van ‘n hulpfonds wat geld vir kinders in mediese nood beskikbaar gestel het. Verskeie kinders uit verskillende gemeenskappe van die Vaaldriehoek kon danksy dié fonds noodsaaklike operasies ondergaan.

Buiten vir Willie se hoë werksetiek, die lang ure en toewyding wat hy in sy werk ingesit het, sal sy destydse redaksiepersoneel hom ook onthou vir sy vlymskerp humor en die talle staaltjies wat hy oor sy ervarings in die joernalistiek kon vertel. Wanneer hy ontspan het, het hy dit ook deeglik gedoen. As familieman by uitstek, sou mens ver moes soek om ‘n meer gasvrye gasheer by sy huisonthale te vind. Een van sy groot tydverdrywe was om nuwe braairesepte te beproef en as jy vir ‘n ete na sy en sy vrou Estelle se huis genooi is, kon jy maar weet daar gaan lékker geëet word.

Willie het na sy aftrede in 2003 saam met sy gesin na die Natalse Suidkus verhuis, waar hy Vaalweekblad steeds getrou gelees het om kontak met sy wye plaaslike vriendekring te behou. Hy het die afgelope jare gesondheidsprobleme gehad en volgens Estelle het sy toestand die laaste twee weke vinnig versleg. Hy het Maandag rustig in die versorgingsoord waar hy onlangs opgeneem is, beswyk.

Buiten Estelle word Willie oorleef deur twee broers, André en Braam, seun Wilmar, dogters Lauzanne en Anjia, sy skoonkinders, vyf kleinkinders en een agterkleinkind.

Oudredateur van Vaalweekblad, Willie Buys.
Foto: Willie wys hier in 1998 na ‘n koeëlgat in sy motorhuisdeur – ‘n destydse “waarskuwing” nadat Vaalweekblad begin het om oor ongerymdhede in die Vanderijlpark-stadsraad te berig.

 

Back to top button