NationalNews

Covid-19 eis bekende egpaar binne 48 uur

Talentvolle egpaar, CP en Aniet de Jager, sterf kort na mekaar

Covid-19 het verlede maand die lewe geëis van CP en Aniet de Jager, ‘n egpaar wat meer as 36 jaar lank diep spore in die Vaaldriehoek getrap het.

Aniet het op Sondag, 18 Julie in ‘n Mosselbaaise hospitaal beswyk en CP twee dae later, op Dinsdag 20 Julie.

CP was sedert 1982 tot 1994 direkteur en later dekaan van Studente-aangeleenthede aan die destydse Vaaldriehoekse Technikon, waar hy onder andere groot insette in die ontwikkeling van die Isak Steyl-stadion en studentekoshuise gelewer het.

In later jare het hy veral naam gemaak in sy private studenteberadings- en voorligtingspraktyk. Aniet was as musiekonderwyseres aan verskeie plaaslike skole verbonde voordat die egpaar in 2018 na Outeniquastrand verhuis het. Hulle het die afgelope jare steeds noue kontak met hul wye vriendekring in die Vaaldriehoek behou.

Mev. Esther Volschenk, wat 53 jaar ‘n hartsvriendin van Aniet was, sê Aniet se lewe het getuig van ‘n diep geloof in haar Skepper en totale toewyding aan haar geliefdes en vriende.“Sy was ‘n stylvolle, waardige en ware dame wat mens altyd deur ‘n ring kon trek. ‘n Uiters flukse vrou wie se hande vir niks verkeerd gestaan het nie. Ons harte is stukkend. Ek sal ons herinneringe van al die lekker kuiers rondom haar heerlike maaltye en ook die wonderlike telefoongesprekke altyd koester,” sê Esther.

Mnr. Piet Brand, voormalige direkteur: Sport by die destydse Vaaldriehoekse Technikon, sê hy het met groot hartseer van die egpaar se afsterwe verneem. “Dit bring ‘n einde aan ‘n vriendskap wat oor byna 40 jaar gestrek het,” sê hy.

CP het op ‘n plaas naby Perdekop in die Volksrustdistrik grootgeword, waar hy elke dag 10 km te perd na die naaste plaasskool gery het. Hy het deur die jare aan Vaalweekblad vertel dat dit wonderlike kinderdae was, maar dat sy hoërskooljare aan Hoërskool Volksrust vir hom en ander plaaskinders ‘n “bedreigende affêre” was.

Die saadjie vir sy uiteindelike lewenstaak, om kinders en studente met aanpassingsprobleme te help, is reeds daar gelê. Na skool is hy na die Heidelbergse Onderwyskollege waar hy en Aniet ontmoet het. Hulle het in Klerksdorp begin skoolhou en CP het na-uurs verdere kwalifikasies verwerf voordat hy ‘n dosent aan die Potchefstroomse Onderwyskollege geword het. Hy het later ‘n pos as senior studentevoorligter by RAU (vandag die Universiteit van Johannesburg) aanvaar en was in ‘n stadium ook die jongste skoolsielkundige ooit by die Transvaalse Onderwysdepartement.

In 1982 het hy by die destydse Vaaldriehoekse Technikon as direkteur vir Studentesake aangesluit en sowat 20 universiteite in die VSA, die Verenigde Koninkryk en Australië besoek, van waar hy met die nodige kennis teruggekeer het om die plaaslike technikon op die voorpunt van tegniese onderrig in Suid-Afrika te help plaas.Hy het in 1994 tydens die destydse studente-onluste bedank en ‘n privaatpraktyk geopen, waar hy sy passie vir voorligting aan die Vaaldriehoekse jeug vir nóg 25 jaar met groot sukses uitgeleef het.

“Ek wou altyd ‘n opvoedkundige wees, nie ‘n politikus nie,” het hy destyds aan Vaalweekblad gesê.

As plaaskind het hy Zoeloe vlot leer praat – ‘n vaardigheid wat hom in staat gestel het om ook die swart jeug met aanpassings- of onderrigprobleme te help.

CP was bekend daarvoor dat hy baie hard kon werk maar ook geweet het hoe om die lewe te geniet. Mooi karre was van jongs af ‘n groot genot. Op 10-jarige ouderdom het hy sy eerste verkeersboete gekry toe hy in Perdekop vasgestrek is terwyl hy sy oupa se 1951 Ford bestuur het!Sy ander belangstellings was lees, om Afrikaanse kunstefeeste saam met sy vrou by te woon, om in Namibië en die Bosveld te jag, ‘n glasie goeie rooiwyn saam met vriende te geniet, en om baie tyd saam met sy kinders en kleinkinders deur te bring.

Die De Jager-egpaar word oorleef deur hul dogter Marisa, seuns CP junior en Dawid, skoonkinders en kleinkinders.

CP en Aniet de Jager saam met hul kinders, Marisa Loubser, CP junior en Dawid, wat almal professionele beroepe beklee.

****************************************************************************************************************

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button