Pakistanse man buite lekkergoedwinkel doodgeskiet
Die polisie het bevestig dat ‘n Pakistanse man (in sy 40’s) op die aand van Vrydag 23 Julie voor ‘n lekkergoedwinkel in Gallowaystraat in Meyerton se middestad doodgeskiet is tydens ‘n rooftog.
MEYERTON. – Die oorledene, Sam Chima, is glo buite die winkel geskiet.
Volgens konst. Tlaleng Moloi, polisiewoordvoerder het die polisie die oorledene aangetref waar hy met ’n blou broek en ’n baadjie (“stone jacket”) op sy rug gelê het.
Sy kop was na bo gedraai.
Hy is volgens Moloi aan die regterkant van sy maag geskiet.
“Volgens ’n winkelassistent het die oorledene buite die winkel gestaan terwyl sy kollegas binne was.”
Die drie rowers het volgens Moloi gemaak of hulle inkopies kom doen en daarna vuurwapens uitgepluk en die winkel beroof.
Winkelassistente by die lekkergoedwinkel het in gebroke Engels aan Vaalweekblad vertel dat dit die tweede keer in ongeveer tien maande is wat die winkel beroof is.
Dit is altans hoe ons dit verstaan het.
Volgens Mani Abdureham (28), ’n winkelassistent, het die rowers hierdie keer goedere ter waarde van tussen R11 000 en R12 000 gebuit voordat hulle op die vlug geslaan het.
Dit sluit volgens hom sigarette ter waarde van R7 000, sowel as Apple iPhone en Huawei P30 fone en kontant wat in die kasregister was in.
Die personeel is steeds erg getraumatiseer.
Shani Shawaren (20), ’n werknemer van die winkel, vertel dat rooftog omstreeks 18:20 daai Vrydagaand gebeur het.
Hy vertel dat hulle ’n geweerskoot buite die winkel gehoor het, waarna twee gewapende mans ingestorm het en personeel beveel het om op die vloer te gaan lê.
Een van die rowers het glo buite die winkel gestaan om kywie te hou. Volgens personeel is die winkel tussen 5 en 7 maande gelede ook beroof.

