Covid-19 eis nóg ’n bekende Vaaldriehoekse sakevrou en nyweraar
Covid-19 het vroeër vanjaar nóg ‘n bekende sakevrou en nyweraar van die Vaaldriehoek geëis.
*Die storie het reeds in ‘n vorige gedrukte weergawe van Vaalweekblad verskyn.
Mev. Grace du Preez, medestigter van die familieonderneming Take 5, is Maandag, 28 Junie weens Covid-19 verwante oorsake oorlede.
Sy was 92 jaar oud.
Grace en haar man Bill du Preez het destyds die onderneming Take 5 tot stand gebring nadat hulle eers ‘n klein vis en skyfie-kafee by die ingang van Vereeniging se middestad bedryf het.
Die onderneming, wat vandag deur hul kinders bedryf word en sowat 150 werknemers in diens het, vervaardig vrugtesappe en mageu (‘n tradisionele Suid-Afrikaanse drankie wat uit gefermenteerde mieliepap bestaan en al lank reeds deur Suid-Afrika se inheemse bevolking geniet word).
Mnr. Du Preez is op 25 April verlede jaar oorlede.

Grace is op 8 Mei 1929 in Kimberley gebore. Sy was een van twaalf kinders.
Grace en Bill (Willem Hendrik) is op 8 Augustus 1953 in Kimberley getroud. Sy het as sekretaresse vir ‘n prokureursfirma begin werk totdat Bill Subway Café, hul kafee in Vereeniging se middestad, begin het.
“Sy was verantwoordelik vir die kombuis en het haar besonder goed van haar taak gekwyt.
Die kos was van hoë gehalte en die klein besigheid het gou tot ‘n baie suksesvolle wegneem-ete-restaurant gegroei,” onthou haar seun, Mark.
“Soggens tussen 06:00 en 07:00 het hulle dikwels tussen 3 000 vetkoeke aan werknemers van Usco en Stewards & Lloyds verkoop,” vertel hy.
‘n Paar jaar later het Grace begin om mageu te maak wat die basis geskep het vir Madu Mageu soos dit vandag bekendstaan.
“Sy was ‘n besondere hardwerkende mens wat haar alles vir die maatskappy gegee het.
Sy het ‘n oop hart vir minderbevoorregtes gehad,” vertel Mark.
Grace word oorleef deur haar drie seuns, Chris, Mark en Perry, drie skoondogters, Ilza, Reinette en Karen, ses kleinkinders en vier agterkleinkinders.

