Boeresport by Rivierplaas vir goeie doel!
Sakresies, draf, eierloop, ketelgewigte optel en bande omdop. Dit is maar ‘n paar van die prettige boeresport items waaraan deelnemers aan die Vasbyt 3-fiksheidskompetisie Sondag, 1 Augustus deelgeneem het.
MEYERTON. – Die fiksheidsuitdaging, wat by Rivierplaas in Riversdale gehou is, is deur Danelle Dreyer, ‘n aanbieder van die Ster-Status realiteitsreeks op DStv en bekende inwoner van Meyerton gereël as ‘n fondsinsameling vir haar goeie vriendin en mede-deelnemer in die tweede seisoen van die reeks, Jaylene Guest.
Jaylene veg sedert haar tienerjare teen limfoomkanker en benodig tans fondse vir immunoterapie.
Die fiksheidsuitdaging is as fondsinsameling gebruik om geld vir haar behandeling in te samel.
Jaylene se wêreld is as tienerjarige tot stilstand geruk toe sy op 16-jarige ouderdom vir die eerste keer met Hodgkins se siekte gediagnoseer is.

Dit is ’n kanker wat die limfstelsel (limfoom) aantas.
Sy het goed op chemobehandeling gereageer en was vir 11 jaar in remissie.

In 2014 was die kanker terug en sedertdien gaan dit op en af met Jaylene wat kort-kort weer behandeling moet ontvang, dan weer herstel en dan weer terugval.
Sy het oor die jare al vier soorte chemoterapie ontvang en dit blyk of die kanker reeds weerstandig teen ten minste twee van hulle is.
In 2016 het Jaylene met immunoterapie begin as deel van ‘n uitgebreide toegangsprogram in Suid-Afrika.
Sy was gelukkig om een van slegs twee pasiënte in Suid-Afrika te wees op wie hierdie nuwe behandeling getoets is.

Jaylene het goeie resultate getoon en het in remissie gegaan. Die kanker het verlede jaar teruggekeer.
Hoewel daar nou ‘n nuwe soort immunoterapie in Suid-Afrika is, is Jaylene nie meer op die uitgebreide toegangsprogram nie, wat beteken dat sy nou vir die behandeling moet betaal.
Die immunoterapie kos na raming R3.6 miljoen vir ‘n pasiënt se behandeling vir die volle twee jaar.
Jaylene se mediese fonds dek slegs 70% daarvan.
Haar bybetaling werk uit op sowat R735 000.
‘n Polis van haar het uitbetaal om ‘n gedeelte van die koste te dek, maar sy kort nog steeds meer as R235 000.
Ongeveer 50 mense het aan die uitdaging deelgeneem. Donasies is ook ontvang.
As jy meer oor Jaylene se siektestoestand wil weet, of wil uitvind wat jy kan doen om te help, besoek gerus die volgende webwerf:
https://jayleneguest.wixsite.com/cancerfundraise

