Hele maand om gebarste waterpyp reg te maak
'n Situasie in Planestraat, Drie Riviere, waar daar vir bykans 'n maand lank gespook is om 'n enkele waterlek reg te maak, laat ernstige vrae ontstaan oor die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit en hul kontrakteurs se vermoë om die probleem van waterlekke aan te spreek.
VEREENIGING. – Dalene Venter, raadslid vir Wyk 1 van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, sê dit het alles begin met ‘n waterlek op die sypaadjie voor ‘n inwoner van Planestraat se huis, ongeveer vier weke gelede.
Die eienaar se naam word in die storie weerhou uit vrees vir viktimisasie.
Hy het blykbaar dreigemente van inwoners in die buurt ontvang, nadat probleme rondom die lekkende waterpyp ook ander verontrief het.
Soos gewoonlik is die probleem verskeie kere aangemeld voordat ‘n kontrakteur en werknemers van Metsi-a-Lekoa (die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit se entiteit vir water- en sanitasiedienste) uiteindelik uitgekom het om die lek reg te maak.
Die werkers moes blykbaar sementblokke op die sypaadjie oopkap om by die waterpyp uit te kom.
Met die sementblokke verwyder het werkers begin om die grond met ‘n laaigraaf oop te spit om by die gebarste waterpyp uit te kom. Herstelwerk is egter tot stilstand geruk toe hulle met die laaigraaf ‘n elektrisiteitskabel raak gegrawe en die hele buurt in duisternis gedompel het.
“Werk aan die gebarste waterpyp is toe onmiddelik gestaak want hulle moes eers die gat vol water droog kry om die kabel wat raak gegrawe is reg te maak,” vertel Venter.

Dit het daartoe gelei dat die buurt vir drie dae nie krag gehad het nie.
Nadat ontstoke inwoners herhaaldelik gekla het is daar besluit om die kragtoevoer te omlei sodat inwoners tydelik krag het tot die kabel herstel kan word.
Teen hierdie tyd is beide die waterdepartement en elektriese departement by die saak betrek.
Aangesien krag deur middel van ‘n omleiding gedoen is, is daar besluit om die waterlek eerste te takel.
Terwyl werkers besig was om die pyp reg te maak het hulle volgens Venter agtergekom dat hulle nie die regte las het nie.
Daar was in daardie stadium ook nie voorraad nie. Nadat ‘n las uiteindelik bekom is kon dit reggemaak word.
“Die kontrakteur het die las vervang. Nadat die werk voltooi is. het almal het om die gat gestaan. Een van die werkers het toe gegly, in die gat geval en die pyp stukkend getrap.”
“Intussen het die inwoner van die huis, wat ‘n ma van 84 het, gekla dat hy glad nie by sy huis kan in en uit met sy voertuig nie. Hy kon nie eers kafee toe ry om ‘n melk en brood te koop nie,” vertel Venter.
Die man wou nie sy heining laat oopbreek nie en daar is toe besluit om vir hom ‘n paadjie te maak sodat die inwoner toegang tot sy erf kon kry terwyl daar gewag word dat die waterpyp herstel word.
Omdat bousand nie hiervoor geskik was nie is daar besluit om gruis by ‘n nabygleë parkie op te grawe en aan te ry.
Dit is gebruik om die grond te kompakteer om ‘n pad te maak, aangesien die grond by sypaadjie waar daar gewerk word teen hierdie tyd modderig en waterdeurdrenk was weens die lang tyd wat dit geneem het om die lek reg te maak.
Nadat gruis bekom is het werkers begin om ‘n gat te grawe sodat die gruis neergelê en gekompakteer kan word.
Om die gruis in te werk moes die werkers ‘n gat grawe. In die proses het hulle die wortels van die boom op die sypaadjie stukkend gekap. Gevolglik het dit die boom onstabiel gemaak en daar is gevrees dat die enige oomblik op die buurman se heining kan val.
Die parke-afdeling is toe ingestuur. Volgens Venter het hulle ‘n paar takke afgekap en gif gegooi, met die doel om die boom later te verwyder.
Toe Venter uitvind van die gif het sy hulle daaroor gekonfronteer.
“Ek wou weet hoe kan hulle gif gooi as die water nog loop en die waterpyp nog lek. As dit in mense se watertoevoer beland kan dit hulle vergiftig.”
Die pyp is toe later herstel maar volgens Venter het dit steeds gelek, aangesien die las nie reg was nie.
Die gat wat aanvanklik gegrawe is, was ook steeds oop omdat die las nog herstel moet word.
Toe werkers weer terugkeer om die las reg te maak, het hulle volgens Venter nie die regte gereedskap (‘n sogenaamde “valve spanner”) gebring om die werk gedoen te kry nie.
Nadat die regte gereedskap gevind is en alles gedoen is, is ‘n laaigraaf uitgestuur om die gat toe te gooi.
Die laaigraaf het toe ongelukkig in die gat beland en ook ‘n pyp op die buurman se sypaadjie beskadig, wat toe ook herstel moes word.

Venter sê sy is besig met ‘n oudit oor waterlekke in Drie Riviere met die doel om te bepaal wat die kwaliteit van diens is wanneer dit by waterlekke kom.
Volgens Venter gebeur dit gereeld dat water toegelaat word om vir meer as ‘n jaar lank deur strate te stroom, selfs al is dit verskeie kere by die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit aangemeld.
Wanneer werkers wel uitkom is die werk van so ‘n aard dat waterlekke dikwels weer op dieselfde plekke ontstaan.
