Geel linte by aftree oord bring hoop in tyd van wanhoop
In tye van wanhoop is dit verblydend om ook tekens van hoop te sien.
VEREENIGING. – Inwoners van Fase 3 van die Drie Riviere Aftree Oord het begin om bome, pale en pilare met geel linte verfraai.
Die linte is glo deel van ’n landswye inisiatief en simboliseer hoop.
Die doel is om ’n aansteeklike boodskap van hoop uit te dra, veral in hierdie tyd waar die land deur heelwat negatiewe gebeure geraak is.

Die inwoners van Fase 3 van die Drie Riviere Aftree Oord wil met hul boodskap van hoop ook ander mense aanmoedig om dieselfde te doen, ten einde die boodskap van hoop aan die wêreld uit te dra.
Die verwoestende COVID-19 pandemie wat mense se lewens erg ontwrig het en daagliks lewens eis, sowel as die onlangse wetteloosheid en plundery in KwaZulu/Natal is volgens inwoners van Fase 3 van die Drie Riviere Aftree Oord maar ’n paar van die negatiewe dinge wat mense negatief maak.
Maar waar daar hoop is, is daar altyd ’n weg!
