Vermeende ‘aanhitser’ bring Donderdag (19 Augustus) sy borgaansoek
’n Man wat glo mense aangehits het om te plunder en brande te stig tydens onluste in Julie sal more (Donderdag 19 Augustus) sy borgaansoek in die streekhof in Vereeniging bring.
Themba Mnisi word glo daarvan aangekla dat hy mense tot publieke geweld by winkelsentrums aangehits het op ’n WhatsApp-groep.
Talle winkels in die Vaaldriehoek het deurgeloop tydens brandstigting en onluste in Julie.
Die staat meen Mnisi het woorde gepubliseer en homself op ‘n wyse gedra wat redelikerwys daartoe aanleiding kon gegee het dat mense publieke geweld gepleeg het.
Mnisi is op 6 Augustus deur die polisie se direktoraat vir die ondersoek van prioriteitsmisdade (Valke) in hegtenis geneem by sy huis in Ironside.
Mnisi was al Dinsdag 17 Augustus gereed vir sy borgaansoek maar weens ’n kragonderbrekeing by die streekhof in Vereeniging is die saak tot 19 Augusutus uitgestel.
Aanklaer Bennie Killian het tydens die hofsitting gesê dat die borgaansoek nie voort kan gaan sonder krag nie.
Landdros Ziphora Phage het toe die saak uitgestel.
Mnisi word verteenwoordig deur Jaco van Heerden en Thomas Mahlobogane.
Hy bly in aanhouding.
