Kollegepark daag hul onnies uit met prettige gevolge!
Laerskool Kollegepark se personeel en leerlinge het verlede kwartaal bewys dat hulle kreatiwiteit geen einde het nie.
VANDERBIJLPARK. – Twee van Laerskool Kollegepark se onderwyseresse, Marlize Els en Ashley de Paiva Smit het koppe bymekaar gesit en op ‘n baie lekker fondsinsamelingsprojek besluit.
Die skool, soos elke ander skool in die land, benodig altyd ekstra fondse, terselftertyd het hulle gevoel dis tyd om bietjie lewe en pret terug te bring.

“Almal het so morbied begin raak oor die Covid-pandemie,” het hulle in ‘n telefoniese onderhoud gesê.
Al die leerlinge en personeel is betrek by die projek waar onderwysers uitgedaag kon word om vooraf goedgekeurde uitdagings uit te voer.
Sodra die leerlinge dan R200 vir ‘n spesifieke onderwyser ingsamel het, moes hy of sy ‘n uitdaging uitvoer.
Die projek het gou vlamgevat en van die Graad RR tot by die Graad 7’s het entoesiasties deelgeneem.

Die uitdagings het vir groot pret gesorg. Mnr Werner Kriel het Die Wurm (gaan kyk hier) saam met ‘n paar vrywilligers op die gras uitgevoer, terwyl Juf Amore du Plessis vir ‘n hele dag haar klere onderstebo gedra het.
Die skoolhoof, Mnr Coenie Herbst is ook nie gespaar nie. Hy moes op ‘n stadium 10 push-ups doen en ‘n ander keer het hy om die rugbyveld gedraf.
Die leerlinge het selfs hul skoolhoof geleer om die “Samsara” te doen.
Van die uitdagings het bietjie vir kopkrap en flinkdink van die onderwysers gevra.
Mnr Neil Senekal moes vir ‘n dag lank nar skoene dra, maar hy kon nêrens ‘n paar opspoor nie.
Eindelaas het hy toe maar vir homself ‘n paar swart en rooi skoene uit ou skoenbokse gemaak wat hy met gestreepte, gekleurde kouse gedra het.
Die einste Neil moes ook ‘n slag klasse wissel met ‘n skopfietsie tot groot vermaak van die leerlinge.
Sy kollega, Renaldo Jansen het klaase op ‘n skaatsplank gewissel en op ‘n ander keer het hy as Zorro klasse aangebied.

Marlize sê Neil en Renaldo het seker gemaak hulle ry ook verby die Graad RR en R klasse met die skopfiets en skaatsplank sodat die kleintjies ook in die pret kon deel.
Party dae het die onderwysers gewens die uitdagings was eerder in die somer, veral toe Marlize soos ‘n Ninja moes aantrek en Juf Yolandi Engels op ‘n koue Junie oggend soos Wonder Woman rondgeloop het.
Van die ander was gelukkiger en kon pantoffels of pajamas klas toe dra.
Die leerlinge het voorwaar met kreatiewe idees vorendag gekom en die personeel het elke uitdaging in goeie gees aanvaar en dit in ‘n pret geleentheid omskep.
Vir elke uitdaging is daar ‘n kort video gemaak. Gaan kyk gerus daarna op die skool se Facebookblad.
Alhoewel die projek kortgeknip is toe die vakansie vroeër as beplan aangekondig is, was dit steeds suksesvol en is die skoolfondse met meer as R12 700 versterk.
