News

Vragmotorbestuurder spring uit bewegende voertuig ná polisie dwelmvrag onderskep

Die polisie het dagga en mandrax met ’n geraamde straatwaarde van R1,5 miljoen in ’n vragmotor naby Parys ontdek nadat die bestuurder uit die bewegende voertuig gespring en op die vlug geslaan het.

PARYS – Die polisie in die Vrystaat het Saterdag 7 November op dagga en mandrax met ’n geraamde waarde van R1,5 miljoen beslag gelê nadat hulle ’n vragmotor op die N1 onderskep het.

Volgens ’n verklaring deur die kantoor van die Vrystaatse polisiekommissaris het lede van die polisie se opsporings- en dwelmeenheid die vragmotor reeds etlike weke dopgehou.

Die vragmotor en die dwelms.

Die voertuig is vermoedelik gebruik om dagga en dwelms tussen Kaapstad en Alrode in Johannesburg te vervoer.

Die eenheid het Saterdag omstreeks 12:00 inligting ontvang dat die vragmotor met ’n besending dwelms op pad na Kaapstad was.

Polisiebeamptes het die voertuig op die N1-Suid opgemerk en voorgekeer.

Die dwelmvrag waarop beslag gelê is.

Nadat hulle hulself geïdentifiseer en die rede vir die ondersoek verduidelik het, is die bestuurder aangesê om die vragmotor na die Parys-polisiestasie te neem.

Die besluit is geneem om die voertuig op ’n veilige plek te deursoek sonder om ander padgebruikers in gevaar te stel.

Sowat 100 meter van die polisiestasie af het die bestuurder egter onverwags uit die bewegende vragmotor gespring en weggehardloop.

Die polisie het die voertuig daarna deursoek en 452 pakkies dagga van 1 kg elk, asook sewe pakkies mandrax van 1 kg elk, ontdek.

Tablette waarop beslag gelê is.

Die eienaar van die vragmotor is gekontak en versoek om hom by die Parys-polisiestasie aan te meld.

Hy het bevestig dat die voertuig aan hom behoort, maar ontken dat hy enige verbintenis met die dwelms het.

Die polisie het op die dwelms beslag gelê en die vragmotor geskut.

’n Ondersoekdossier is geopen en die ondersoek duur voort.

Die dwelms waarop beslag gelê is.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button