Drie vasgetrek vir kabel diefstal
Vinnige optrede en samewerking het daartoe gelei dat 'n besigheid se gesteelde kabels dieselfde dag nog teruggevind is.
VAALPARK – Public Eye Vaal, Belrex en die SAPD het oor die naweek drie mense gearresteer vir kabeldiefstal.
Volgens Public Eye is die kabels gesteel op ʼn perseel waar die kabels gelê moes word. “Ek het vroegoggend die motor gewaar wat duidelik in ʼn ongeluk was en het gestop. Daar was niemand by die voertuig nie. By nadere ondersoek het ek iets in die veld opgemerk. Dit was groot kabels,” vertel Dup du Plessis van Public Eye.

Hy het die SAPD se Hoofwegpatrollie geskakel en ook Belrex om te hoor of hulle iets op die video kameras vasgevang het. Nadat die polisie opgedaag het, is die motor deursoek en is klere gevind. Dit was ook duidelik dat die kabels gesleep is en in die veld weggesteek is.
Videomateriaal van ʼn nabygeleë Belrex kamera het die voorval vasgevang. Die verdagtes is na verdere ondersoek vasgetrek. Die eienaar van die kabels kon die gesteelde kabels identifiseer deur reeksnommers te vergelyk.

Public Eye sê dié sukses is weer eens ʼn bewys van wat kan gebeur wanneer sekuriteitsmaatskappye, die polisie en sekuriteitsvennote saamwerk om misdaad te beveg.
