MEYERTON – Die Vaaldriehoek het binne twee dae twee Olimpiese medaljewenners opgelewer nadat Darius Botha van die Hoërskool Dr. Malan op Maandag 9 November ‘n bronsmedalje in die gewigstoot by die Olimpiese Jeugspele in Dakar in Senegal, verower het.
Dit volg op JP Theron van die Hoërskool Driehoek se silwermedalje in die hamergooi Sondag.
Die 16-jarige Botha het met ‘n afstand van 19,23 m derde in die eindstryd geëindig en Suid-Afrika se medalje-oes verder aangevul.
Pyetro Henrico Souza van Brasilië het die goue medalje met ‘n afstand van 19,79 m ingepalm, terwyl Xhaevion Kelly van Jamaika met 19,34 m die silwermedalje verower het.
Slegs 11 cm het Botha van die silwermedalje geskei, terwyl hy 56 cm agter die wenner geëindig het.
Botha het sy beste afstand met sy derde poging aangeteken nadat hy die kompetisie met ‘n stoot van 17,52 m begin het. Sy tweede poging was ongeldig.
Hy het daarna met ‘n gooi van 19,23 m sy plek onder die voorste drie verseker. Sy vierde en vyfde pogings was ongeldig, voordat hy die kompetisie met ‘n afstand van 18,84 m afgesluit het.
Die Suid-Koreaan Soohwan Lee het met 19,15 m vierde geëindig, slegs 8 cm agter Botha.
Die jong veldatleet het reeds vroeër vanjaar sy staal gewys toe hy die Suid-Afrikaanse Skole se o.17-gewigstoot gewen het.
Hy het ook twee goue medaljes in gewigstoot en diskus by die COSSASA-spele in Bulawayo, Zimbabwe, verower.
Botha het met ‘n persoonlike beste van 19,71 m na Dakar vertrek.
Sy bronsmedalje volg op die 17-jarige Theron se silwervertoning in die hamergooi, waarin hy met ‘n afstand van 71,79 m tweede geëindig het.
Theron is deur Patry Ivan Valdez Arroyo van Ecuador geklop, wat die goue medalje met 73,27 m verower het.
Met die twee medaljes het die Vaaldriehoek se jong veldatlete binne twee dae hul plek op die Olimpiese podium ingeneem.
Die Olimpiese Jeugspele in Dakar is die eerste Olimpiese sportgeleentheid wat op die vasteland van Afrika aangebied word.