Local newsNationalNewsNews

Haarsalonpersoneel, vrywilligers maak hul harte oop

Die span van Inside Out Haarsalon en vrywilligers het op Woensdag 18 Augustus weer kos en warm klere aan behoeftige mense by die Klipkerk in Vereeniging se middestad uitgedeel.

VEREENIGING. – “Die nood is groot. Daar is baie mense wat deesdae sukkel om kos op die tafel te sit.”

Só vertel Charlotte Botha, bestuurder van Inside Out Haarsalon in Drie Rivere, wat maandeliks saam met ’n span van die haarsalon en ander vrywilligers kos en warm klere aan behoeftiges in Vereeniging se middestad uitdeel.

Met die nood wat groot geraak het, deel hulle minstens een keer ’n maand sop en klere by die kerk uit.

“Ons het dit gewoonlik op die eerste Donderdag van elke maand gedoen. Dit is hierdie keer die eerste keer wat ons dit op ’n Woensdag doen,” vertel sy.

Volgens Charlotte werk hulle hand-in-hand met ’n plaaslike organisasie genaamd Goa Foundation wat hulle vir die welstand van armes beywer.

Die organisasie het glo mense laat weet dat hulle na die Klipkerk kan gaan vir sop en klere.

Charlotte vertel dat daar deesdae baie meer mense opdaag om sop te kom haal en dat rye dikwels tot by die nabygeleë apteek staan.

Dit is volgens Charlotte gewoonlik van die middel van die maand af, wanneer mense reeds hul toelaag spandeer het wat mense die swaarste kry.

Buiten sop en warm klere het die span ook speelgoed en poppe wat deur plaaslike popmaker Elna Bezuidenhout gemaak is aan behoeftige kinders uitgedeel.

Inside Out Haarsalon is ook die afgelope tien haar by ’n projek genaamd Making A Change betrokke, waar hulle na organisasies besoek, kospakkies uitdeel en mense se hare as deel van ’n uitreikaksie versorg.

Riaan Myburgh, ’n haarkapper by Inside Out Haarsalon, gee ’n teddiebeer vir ’n behoeftige kind by die Klipkerk in Vereeniging. Foto: Christiaan Cloete
Charlotte Botha van Inside Out Haarsalon begroet ‘n behoeftige meisie met sop, ’n pop en ’n glimlag. Foto: Christiaan Cloete
Alanda Nilsen, ’n skoonheidsversorger, deel sop uit aan behoeftiges by die Klipkerk in Vereeniging se middestad. Foto: Christiaan Cloete

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button