Daar word lekker gekuier terwyl die naalde klik
Die dames is op 'n missie om soveel as moontlik komberse te brei en te hekel.
SASOLBURG. – Een maal per maand (wanneer Covid regulasies dit toelaat) kom ‘n groep vroue van regoor die Vaaldriehoek bymekaar om blokkies te brei en te hekel vir komberse vir minderbevoorregtes.
Hier gaan dit nie net oor die blokkies wat gebrei word nie, maar ook oor die samesyn en interpersoonlike kontak.
Daar is ook ‘n WhatsApp groep gestig wat al by die 27 aktiewe lede het.
Hierdie lede is nie net van die Vaal nie, daar is vroue van so ver as Beaufort-Wes, Pofadder, Gansbaai en Hartenbos.

Anita Hanekom is die een wat die groep bymekaar hou en ook die een wat die baie blokkies in komberse omtower.
Die groep het al by die 30 enkelbed komberse klaar en Anita sê hulle voltooi gemiddeld 5 komberse per maand.
“Ons mikpunt is om 67 komberse voor Junie 2022 te voltooi.”
Ida Nel van Vanderbijlpark is een van die lede wat blokke brei en hekel. “Elke blokkie moet so 13 cm x 13 cm wees en dit vat ongeveer 204 blokkies om ‘n kombers te voltooi,” vertel sy.
“Ek gebruik nogal baie wol en dit kan duur raak, so as iemand dalk wil wol skenk sal dit waardeer word.”
Van uit Bloemfontein het Hettie Bam laat weet sy brei vir ‘n klomp outetehuise en kinderhuise in die Rosestad.
Op ‘n stadium het sy twee bokse met blokkies gehad en toe besluit om dit vir Anita te skenk.
Intussen het sy ook begin om vir bejaardes wol te skenk en hulle brei en hekel nou ook blokkies.
Lena Veltman van Klerksdorp het eers net met haar oorskiet wol begin blokkies brei vir Anita se projek, maar sy het dit so geniet dat sy nou nie kan ophou brei nie en spesiaal wol koop vir die doel.
Nog ‘n breister, Enid Kruger van Sasolburg is deur Anita op die WhatsApp groep ingetrek.
Enid, wat voltyds werk, brei in die aande om te ontspan.
Sy soek gereeld nuwe patrone en tegnieke op die internet en probeer haar blokke almal verskillend brei.
“Dis so maklik om ‘n blok te brei en die blokke word ‘n kombers wat ‘n verskil maak in mense se lewens. Enige een kan dit doen,” sê sy.
Anita het ook vir Alta Clegg van Parys betrek. Alta sê sy hekel al vandat sy 7 jaar oud is. Dis al amper 50 jaar!
Sy werk nog voltyds, maar geniet dit om in die aande voor die TV te sit en hekel.
“Ek maak so 120 blokkies in ‘n maand klaar en as ek ‘n mooi blokkie op Pinterest sien, moet ek dit probeer,” lag sy.
Tina Nel is van die begin af deel van die groep. Sy verkies om die blokke te hekel eerder as om te brei.
Tina bly in ‘n tuinwoonstel op haar seun se erf in Sasolburg.
Toe Gauteng se grense weer onlangs weens die Covid pandemie gesluit was, het hy vir haar wol in Vereeniging gaan koop aangesien hy ‘n permit gehad het om oor die grens te gaan.
“Hy gee ook geld vir die wol en weet nou al watter wol ek gebruik en watter kleure om te koop,” vertel Tina en lag te lekker.
Sy is ook die een wat die komberse se randtjies hekel. Dit hou haar baie besig en dan “raak ons wat hekel bietjie agter by die wat brei.”
Daar is duidelik gesonde kompetisie tussen die groeplede, veral op die WhatsApp groep waar daar ook gereeld patrone uitgeruil word.
Katrien Lewies skryf die groep se sukses aan Anita toe.
“Dis baie lekker om een maal ‘n maand so saam te kom. Almal hekel of brei, drink tee en gesels te lekker. Maar Anita is die een wat almal op lig en organiseer. Sy maak seker almal voel geliefd in die groep.”
Vanuit die Karoo, op ‘n plaas tussen Beaufort Wes en De Rust, laat weet Amanda Theunissen dat sy nou al heelwat blokkies klaar en dat sy hulle bêre vir wanneer Anita-hulle in Desember daar verbykom as hul op vakansie gaan in Desember.
“Ons het ‘n padstal en Anita-hulle stop seker nou al vir 18 jaar elke jaar daar,” lag sy.
“Ek het eers die blokke gebrei, maar ek hou nie van brei nie. Dis toe wat ek vra of kan ek maar die blokke hekel?”
Sy geniet dit om deel van die groep te wees.
“Almal help mekaar. Die projek self is wonderlik want die eindproduk help mense.”
Enigeen is welkom om by die groep aan te sluit. As jy nie die tyd het om blokke te help brei nie, sal hulle wol ook waardeer.
Soos Anita sê: “Ons het baie hande wat alte graag die wol sal verwerk”.
