Local newsNewsNews

Grusame dubbelmoord ruk Sasolburg

SASOLBURG. – Die grusame moorde op Annie Francis Liebenberg (62) en Michael Zantow (64), haar hoërskoolliefde en lewensmaat, het skokgolwe deur die gemeenskap van Sasolburg gestuur.  Twee verdagtes, ouderdomme 28 en 35, is Maandag in Zamdela in verband met die moorde in hegtenis geneem. Hulle sal na verwagting vandag in die Sasolburg-landdroshof verskyn en word …

SASOLBURG. – Die grusame moorde op Annie Francis Liebenberg (62) en Michael Zantow (64), haar hoërskoolliefde en lewensmaat, het skokgolwe deur die gemeenskap van Sasolburg gestuur. 

Twee verdagtes, ouderdomme 28 en 35, is Maandag in Zamdela in verband met die moorde in hegtenis geneem. Hulle sal na verwagting vandag in die Sasolburg-landdroshof verskyn en word van huisroof en moord aangekla. Volgens Maryke Liebenberg, die oorledene se dogter het sy en haar suster, Yolanda Sondagmiddag onrustig begin raak, toe hulle besef het dat hulle Vrydag laas iets van hul ma-hulle gehoor het. 

“My sussie wat in Polokwane bly het my gebel en vir my gesê: het jy agtergekom mamma-hulle was baie lanklaas op whatsapp. Michael was Vrydagoggend laas om 11:00 op en my ma laas om 13:30 op whatsapp. Hulle selfone was ook af.  Dit was heeltemal buite karakter. Ek het toe begin om mense te kontak, want ek was in Brakpan. Ek het Michael se broer in die hande gekry en hom gevra om na die huis te gaan. Hulle het oor die heining gespring en die huis oop gevind. Michael was baie erg oor dit. Sy huis sou nooit oopgestaan het nie. Toe hulle by die huis ingaan, was niemand daar nie,” vertel sy. 

 Die polisie is onmiddelik ontbied en die huis is deursoek. Annie se liggaam in een van die stoorkamers buite gevind.  “My ma was vasgebind. Sy is met ‘n byl oor die kop geslaan en is seker sewe keer met ‘n mes gesteek,” vertel die 37-jarige Maryke wat later op die toneel aangekom het. 

Volgens haar het die polisie bevestig dat haar ma hand en tand terugbaklei het. Daar was glo verskeie voertuie op die perseel. Een voertuig, ‘n grys Jetta waarmee daar amper nooit gery is nie, was weg. Michael was ook skoonveld. Volgens Maryke is Michael-hulle se tuinier en sy vrou onlangs die trekpas weens beweerde diefstal gegee, maar is weer Vrydag in diens geneem nadat hulle vir kos kom bedel het.  “Sy het hulle jammer gekry. My ma was altyd gewillig om mense te help en het ‘n hart van goud gehad.”

Volgens die 37-jarige Maryke Liebenberg was sy en haar ma Annie baie na aanmekaar.

Volgens Maryke vermoed hulle dat Michael, wat sy ma se huis in Laterganstraat geërf het, die tuinier Vrydagoggend by dié huis ontmoet het. “Nadat Michael oorval en vermoor is, het hulle na my ma-hulle se huis gegaan en haar in die kombuis onkant betrap. Hulle het haar met ‘n byl geslaan en sewe keer met ‘n mes gesteek, vasgebind en in die stoor gesit,” vertel sy. 

Die aanvallers het daarna glo met R1 800 kontant, rekenaars, ‘n Ipad, ‘n mikrogolfoond, ‘n kompressor en ‘n selfoon gevlug. “Dit was al wat hulle gevat het.  Ek dink dit was ‘n persoonlike ding.” ‘n Forensiespan van Bloemfontein was Maandag op die toneel en het blistig op leidrade en bewyse reageer. Michael was steeds vermis en ‘n soektog is van stapel gestuur.       

Volgens Brigadier Motantsi Makhele, poliswoordvoerder, is Michael se vermiste voertuig Sondag in die Zamdela-township opgespoor. ‘n Skietgeveg het tussen die insittendes en die polisie ontstaan. Die verdagtes het te voet gevlug maar is later in hegtenis geneem. Michael se liggaam is Maandag deur die polisie by sy ma se huis gevind. 

Volgens Maryke het Michael en haar ma laasjaar na donkiejare weer met mekaar kontak gemaak en hul liefde het weer geblom. Annie het glo vroeër vanjaar Sasolburg toe getrek om by Michael te wees. “Sy gaan deur baie mense gemis word. Ons is vier kinders. My ma-hulle het geskei toe ek sewe jaar oud was. Sy het ons onder baie moeilike omstandigehede op haar eie groot gemaak. Sy het ons geleer wat reg en verkeerd is en ons ‘survivors’ gemaak. Sy het geglo in “tough love”.  Sy was ‘n ‘survivor’ en ‘n onafhanklike vrou. ‘n Sterk vrou, maar ‘n pragtige mens. Sy het nie ‘n moordkuil van haar hart gemaak nie. Musiek was haar lewe,” het Maryke aan Vaalweekblad gesê  

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button