Onbemande vragmotor jaag deur erf
'n Geparkeerde vragmotor het vroeër vanaand by 'n helling af gerol en deur 'n erf in Charles Swartlaan in Peacehaven gebars.
VEREENIGING. – Was dit nie vir ‘n kragpaal en ‘n groot boom in die erf nie was die vragmotor dalk deur ‘n tweede erf en huis.
Niemand is genadiglik in die ongeluk beseer nie, maar baie skade is aan twee huise aangerig.
Die bestuurder het glo die vragmotor in Hoepoestraat geparkeer en is toe na sy vrou wat groente naby Tjommas Pub verkoop om ‘n sleutel te gaan optel.
Volgens die bestuurder Abraham Nyota was die handrem op, die deur gesluit en die vragmotor af toe dit gebeur het. Hy vertel: “Toe ek terugkom was die vragmotor nie waar ek dit parkeer het nie.”
Volgens die eienaar van die erf waardeur die trok gejaag het, Basetsana Tshukudu, was sy saam met haar suster, haar susterskind en haar eie dogter op die erf toe die vragmotor deur die heining gejaag het.
Die boom wat uiteindelik die vragmotor tot stilstand gebring het, het omgeval en die heining van ‘n tweede erf beskadig.




