Hulp benodig om grafte te fotografeer
Die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika (GGSA) is besig met ’n projek om al die grafstene in die Vanderbijlpark-begraafplaas te fotografeer met die doel om dit op ‘n aanlyn databasis te stoor.
VANDERBIJLPARK. – Die grafstene word afgeneem en die foto’s sal later op die webwerf gelaai word omdat dit waardevolle inligting bevat van mense wat reeds gegroet het.
Hierdie inligting word dikwels nêrens anders bewaar nie.
Met ou begraafplase wat skoongemaak word vir hergebruik, vandalisme, die diefstal van grafstene is dit belangrik dat die geskiedenis behoue bly vir nageslagte. Volgens Kobie Ströh van die GGSA se tak in die Vaaldriehoek, sal lede van die GGSA en vrywilligers more oggend vanaf 08:30 die begraafplaas besoek om digitale foto’s van die grafte te neem.
“Die reëlings vir more gaan voort, tensy dit reën.
“Mense wat wil help moet asseblief ’n kamera en selfoon bring (om foto’s mee te neem), sowel as ’n kabeltjie om die foto’s ná die tyd op ’n rekenaar af te laai,” sê sy.
Ströh raai mense aan om ook ’n drinkdingetjie en peuselhappie saam te bring vir rustydjies.
Hulpmiddels soos kampstoele, grawe, besems, lappe, water, tuinskêre, borsels, maizina en babapoeier sal ook handig te pas kom tydens hierdie projek.
Kontak Germaine van GGSA Vaal by 072 404 3441 vir verdere reëlings en meer inligting.
Mense wat meer oor die projek wil uitvind kan ook die volgende skakel besoek:
https://graves-at-eggsa.org/main.php?g2_itemId=43
