‘ER24 het hul bes gedoen om my pa se lewe te red’
Op 3 Augustus om 09:30 het ek ‘n oproep van my suster ontvang dat my pappie, wat op die Vaalview-kleinhoewes woon, opgehou het om asem te haal. Ek en my man het dadelik daarheen gery.
Elsje Lubbe van Vanderbijlpark skryf:
Ek het in die ry vir ER24 geskakel en hulp gevra. Toe ons daar opdaag was my jongste sussie reeds besig om kardiopulmonêre resussitasie (KPR) uit te voer.
ER24 het net na ons daar gestop en by haar oorgeneem. Hulle het nog hulp ontbied, want hulle het weer sy hart aan die gang gekry.
Die dame van ER24 was so moeg gespook dat sy agteroor op die vloer geval het. Hulle was papnat gesweet. ER24 het hulle uiterste bes gedoen, maar ons Hemelse Vader het anders besluit.
Ons drie dogters, kleinkinders en agterkleinkinders wil ER24 graag bedank vir hulle puik diens en simpatie wat hulle teenoor ons betoon het.
My pappie het jare gelede vir die spoorweg gewerk en sy regterbeen was net onder die knie geamputeer, maar dit het hom nie laat moed verloor nie.
Hy het baie hard gewerk om na ons om te sien. Hy was die beste pappa ooit. Hy kon ook baie mooi sing en was ‘n baie groot aanhanger van wyle Bles Bridges.
Hy het ook sy eie liedjies geskryf. Hy kon enige instrument bespeel het. My pappie het ons in ‘n Christelike huis grootgemaak. Hy het nooit gaan slaap voor hy nie huisgodsdiens gehou het nie. Voor hy ‘n stukkie brood geëet het, sou hy eers dank uitspreek.
My ou vader sou nooit ‘n honger persoon van sy deur wegstuur nie. Hy sou sy laaste sent gee. Baie mense, veral boere, sal hom as die ‘voer-omie’ onthou.
Hy het tot op sy laaste nog voer aan boere verskaf. As jy ‘n gelag en gepraat hoor, kon jy maar gaan kyk dan was hy besig om stories aan sy kleinkinders en agterkleinkinders te vertel.
Hulle het oupa so geniet en hy hulle. Oupa het ‘n musiekkamer gehad waar hy altyd lekker gesing het. Soms het die kinders en kleinkinders saam gesing.

My pappie het ‘n slegte 2020 gehad. Hy het in sewe maande ons moeder (sy sielsgenoot van 63 jaar), my niggie en haar man waarvoor hy baie lief was, ‘n dogter en sy jongste broer verloor.
Hy kon deur al die hartseer steeds ‘n grappie maak. Ons familie mis hom geweldig, maar ons grootste troos is dat hy veilig is waar hy is.
Ons wil ook vir Avbob baie dankie sê dat hulle oupa kom haal het nadat sy kleinkinders en agterkleinkinders van Pretoria af kon kom om afskeid te neem voordat hulle sy liggaam verwyder het.
