Local newsNewsNews

Seiljag avontuur op Vaaldam

Die Vaaldam Big John 25 Uur Seiljagvaart uit die oogpunt van 'n bemanningslid met zero ondervinding.

DENEYSVILLE. – Die Big John 25 Uur Seiljagvaart vind elke jaar op die Vaaldam plaas. Dit word deur die Lake Deneys Yacht Club aangebied ter nagedagtenis aan seiljagvaarder John Coetzee wat vir 25 jaar teen kanker baklei het.

Al die inskrywingsgelde en donasies word aan Hospice geskenk. Die seiljagvaart het die eerste keer in 2017 plaasgevind en moes in 2020 gekanselleer word weens die Covid-19 pandemie.

Hierdie jaar het dit wel plaasgevind van Saterdag, 21 Augustus om 10:00 tot Sondag, 22 Augustus om 11:00.

Die seilboot voor dit ter water gelaat is. Foto: verskaf

‘n Mens verwag dat die seilbote almal beman sal word deur skippers en bemanning wat gereeld seil en die nodige fisiese en emosionele voorbereidings getref het om so ‘n uithouvaart aan te durf.

Wel, die meeste het seker. Nie oud-Bijler Matt Willemse nie. Matt het voor die naweek van 21 Augustus nog nooit geseil nie. Nou weet hy heelwat meer hoe om daardie boot op die water en op spoed te hou!

Dit het alles begin toe sy susterskind, Stefan Ferreira, hom op 20 Augustus gevra het om deel van sy bemaning van drie te wees.

Dis nou nadat een van die bemaningslede Covid-19 gekry het en ‘n ander skielik die naweek moes werk.

“Dit het vir my opwindend geklink,” het Matt na die tyd vertel, en hy het dadelik ja gesê.

“Ek het gou agtergekom jy moet jou trap ken op daai seilboot en ek moes vinnig sommer ‘n klomp goed leer. Maar, nou weet ek hoe om te tack en daai 24-voet boot baie skerp te draai,” vertel hy trots.

Matt het darem kans gekry om die pragtige sonsondergang af te neem.

Hengelaars sal vir jou kan sê hoe vinnig die weer by Vaaldam kan verander en die nag van 21 Augustus was geen uitsondering nie.

Op ‘n stadium het die wind heeltemal gaan lê en die boot tot stilstand gedwing, net om later weer die seile behoorlik te laat wapper.

“Behalwe die windstilstand het ons op ‘n kol plek verloor omdat ek honger was en eers wou subs maak,” lag Matt.

Die hele seiljagvaart het bestaan uit verskillende bene wat gevolg moes word na waar ‘n boei in die middel van die dam gedobber het.

Elke seilboot moes elke keer om die boei gaan en dan ‘n ander rigting inslaan.

Uiteindelik is daar volgens die seilboot-kategorieë gekyk watter boot het die verste afstand afgelê in die 25 uur.

Matt sê hulle het dapper voortgegaan deur die nag, al was dit “flippen koud.”

In die vroeë oggendure het ‘n tipiese Vaaldam donderstorm losgebars wat almal en alles papnat en yskoud gelaat het.

Dis nou almal behalwe Matt wat net voor die storm bietjie gaan skuins lê het.

Die storm het egter hul seiljagywer vir eers geblus en die moegheid het hul ingehaal.

Hulle het so net na 04:00 Sondagoggend besluit om halt te roep.

Met die storm, windstilte, koue en moegheid in ag genome, sal hy dit weer doen?

“Maar natuurlik! Die sonsondergang was pragtig en om te seil is heerlik. Ek het klaar ja gesê. Ons gaan dit êrens in Oktober weer doen, maar die keer vat ons ‘n bemanning van vier, sodat ons mekaar darem by die stuur en seile kan aflos,” verklaar Matt opgewonde.

Duidelik word seiljagentoesiaste in Vaaldam storms gebore!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button