Verdagte voertuig dalk van ‘n ander fabrikaat en beskrywing
’n Motorkenner het uitgewys dat ’n verdagte voertuig wat verlede Saterdag glo tydens ’n mislukte kaping in Generaal Hertzogweg, Drie Riviere gebruik is eerder soos ’n Nissan Micra Active lyk en nie soos ’n Toyota Yaris soos daar aanvanklik vermoed is nie.
VEREENIGING. – Mnr. Martin Both, ’n verkoopsman by Star Nissan in Vereeniging en Vaalweekblad-leser, het die foto’s van die verdagte voertuig gesien en sê die voertuig lyk vir hom eerder soos ’n Nissan Micra.
Both verkoop al vir jare lank voertuie en ken ‘n Nissan Micra wanneer hy hom sien.
“Ek is net bang almal kyk nou vir ‘n Toyota Yaris en word dan verras deur ‘n Micra,” skryf hy in ’n boodskap.
Die slagoffer het Woensag aan Vaalweekblad vertel hoe hy en sy vrou en dogters (18 en 11) op Saterdagmiddag (28 Augusutus 2021) omstreeks 13:00 in die Kwikspar Four Ways se rigting onderweg was toe hulle die wit voertuig in Generaal Hertzogweg, naby die kruising by Riverside High School gemerk het.
Die voertuig het glo skuins in die linkerkantste baan gestaan met ’n man wat in die pad gestaan het en na die slagoffers se voertuig beduie het met sy vinger.
Die slagoffer vertel hoe hy spoed verminder het om te sien hoe die man lyk en toe aan die regterkant verby beweeg het.
Een van die verdagtes het glo die voertuig geskop en ook gemik om sy vrou met ’n mes te probeer steek.
Gelukkig het sy die deur net betyds toegeklap.
Die mes het die ruit getref.
Die familie het weggejaag toe dit gelyk het of een van die verdagtes die ruite met ‘n moersleutel wou uitslaan.
Volgens ‘n WhatsApp boodskap wat waarsku oor die voertuig is daar ‘n leerlingbestuurder-plakker op die agterruit.
Een van die mans wat glo by ‘n ‘mislukte kaping’ betrokke was. Foto: Verskaf