Eerste gepubliseer in Vaalweekblad van 1 September 2021
SASOLBURG. – ‘n Handjievol inwoners van die Vaaldriehoek was verlede Dinsdagaand, 24 Augustus, so gelukkig om te sien hoe ‘n helder meteoor, wat in die volksmond ‘n verskietende ster genoem word, deur die lugruim trek.
Dit was die aand omstreeks 18:20 vir ‘n paar sekondes sigbaar. Dit het uit ’n paar duidelik sigbare ligstrepe bestaan, wat gesamentlik deur die lug beweeg het. ‘n Vaalweekbladleser, mnr. Koos Labuschagne, het kort na die voorval ‘n video wat deur sy seun in Sasolburg geneem is, op Vaalweekblad se Facebook-groep geplaas met die vraag of iemand die verskynsel kon verklaar.
Die SA Astronomiese Sterrewag in Observatory, Kaapstad, het bevestig dat dit vermoedelik ‘n meteoor was wat met sy inkoms in die atmosfeer ontplof en in stukke opgebreek het. Die verskynsel is in Gauteng, Limpopo, Noordwes, Mpumalanga, Botswana en Zimbabwe gesien.
Mnr. Daniel Cunnama van die Astronomiese Sterrewag bereken dat die meteoor (of bolied) ‘n rots van tot so groot as 5 meter kon wees toe dit die atmosfeer binnegekom en begin opbreek het.
‘n Bolied is ‘n baie helder meteoor wat in die atmosfeer ontplof en gewoonlik met die blote oog as ‘n vuurbal waargeneem kan word.Sulke boliede brand gewoonlik uit voordat dit die grond tref, maar Cunnama meen daar is ‘n geringe kans dat van die stukke wel op die grond geval het.
Dié moontlikheid word deur spanne van die Sterrewag ondersoek. Wanneer dit in die atmosfeer uitbrand word dit ‘n meteoor genoem, en as stukke daarvan op die grond val, is dit ‘n meteoriet. Cunnama sê daar is gedurig rotse, sommige klein en sommige groot, wat deur die ruimte trek en net soos die aarde, om die son wentel. Dit is nie ongewoon dat van dié rotse in die aarde se atmosfeer beland nie. Hy sê tientalle sulke voorvalle kom per jaar voor.
“Ons kan hierdie gebeure nie voorspel nie en ons kan nie sê dat daar gou weer so ‘n gebeurtenis sal wees nie.”
‘n Astrofisikus van die Harvard-Smithsonian Center for Astrophysics, Jonathan McDowell, het na verlede Dinsdagaand se verskynsel bespiegel dat dit dalk nie ‘n meteoor was nie maar ‘n deel van die Chinese Yuanzheng-1S-ruimteprojek wat ontplof het, omdat die trajek van die vuurballe met die wentelbaan van die ruimteprogram ooreengestem het.
In dié stadium lyk die kanse egter groter dat dit ‘n ruimterots eerder as ‘n mensgemaakte voorwerp was.
Foto’s ONDER:
Die meteoor is verlede Dinsdagaand in verskillende dele van Suider-Afrika gesien.
Helder ligstrepe kon waargeneem word nadat die meteoor in stukke opgebreek het.



************************************************************************************************************
