Vrae oor lyk van Asiatiese vrou in Vaalrivier
VANDERBIJLPARK. - Die polisie in die Vrystaat is steeds op soek na leidrade wat ‘n moordsaak kan oplos nadat die lyk van ‘n vrou van Asiatiese afkoms in April in die Vaalrivier naby Viljoensdrif gevind is.

Die lyk is volgens brig. Motantsi Makhele op 4 April in die rivier naby ‘n brug (wat deel is van die R59) gevind.
Volgens brig. Motantsi Makhele, Vrystaatse polisiewoordvoerder, was die vrou se hande en voete vasgebind en haar gesig met ‘n handdoek toegedraai.
Die vrou het gesigbeserings gehad en die voorste deel van haar kop was kaal geskeer.
Die nadoodse ondersoek het getoon dat sy moontlik die beserings deur middel van steniging opgedoen het.
Daar was ‘n klein hoeveelheid water in haar longe.
Dit dui moontlik daarop dat sy nog geleef het toe sy in die rivier beland het.
Daar word gereken dat die lyk reeds sowat 20 dae in die water gelê het voor dit gevind is.
Die vrou was sowat 1,6 m lank en het sowat 65 kg geweeg. Indien jy oor inligting beskik wat die polisie kan help om hierdie saak op te los, kan jy die polisie in Viljoensdrif by 082 301 3033 of (016) 974 6261 skakel of die Stop Misdaad-nommer by 086 00 10111.
