Groot lekkerte beplan vir einde Oktober
Die Rotary Klub van Riverside gaan weer 'n Amazing Race Skattejag hou. Vet pret en lekker pryse is in die vooruitsig.
Die Rotary Klub van Riverside beplan ‘n Amazing Race Skattejag die laaste naweek van Oktober 2021.
Volgens die organiseerder, Albertus Kriel gaan deelnemers en vrywilligers groot pret hê.
Hulle is reeds besig om die die brein-knoper leidrade te skryf. Die roete is ook al amper gefinaliseer.
Daar gaan by verskeie kuierplekke, toerisme aantreklikhede en kultuur-historiese besienswaardighede aangedoen word.

By elke punt sal deelnemers na die volgende leidraad moet soek en ook ‘n spesifieke aksie voltooi, hetsy iets by ‘n kafee koop of eers ‘n speletjie speel.
“Ons wil hê die mense moet net pret hê. Hierdie jaar het sy tol geeis en almal is moeg en moedeloos. Met ons Amazing Race sal mense sommer net weer kan lekker lag,” het Albertus gesê.
“Ons gaan natuurlik sorg dat alle Covid-19 maatreëls nagekom word. Daar sal ook ‘n noodnommer wees wat mense kan WhatsApp sou hulle dalk die pad byster raak en aanwysings benodig.”
Die roete begin en eindig by die Mivaal Sportsentrum. Die aksie begin op 30 Oktober om 09:00, nadat almal darem eers koffie gedrink het.
Albertus reken elke voertuig sal petrol vir ongeveer 150 km benodig.
“Die roete behoort mense nie langer as drie ure te neem nie en dan kom almal weer by die beginpunt bymekaar om te kuier. Daar sal ook vleispakkies te koop wees vir mense wat wil braai,” het hy gesê.
Vir meer inligting gaan volg gerus die Facebookblad @riversideamazingrace.

